Nuwe voorsitter vir Skemer VLU

LEPHALALE — Skemer VLU het onlangs ’n nuwe voorsitter verkies nadat die pasverkose voorsitter, Nicolene Lemmer, bedank het. Trudie Bronkhorst is onbestrede verkies en sy sê sy sien uit na ʼn heerlike jaar by die tak.

Die onderwerp van hulle Februarie-vergadering was kreatiwiteit. Lede het voor hierdie vergadering 24 kompetisie-artikels ingehandig wat op Streeksvlak beoordeel word.

Volgens die lede is kompetisies nie Skemer VLU se fokuspunt nie. Hulle fokus eerder op die ontdekking en ontwikkeling van elkeen se talente.

Tharina Rossel demonstreer toukuns en lede maak ʼn spirelli-kaartjie van tou vir die liefdes in hulle lewens. Hulle begin ook met beginnerborduursteke werk aan ’n brilsakkie.

Nog projekte waarvan hulle deel is, is:

  • Geld word ingesamel om herbruikbare sanitêre doekies te borg vir minderbevoorregte dogters en sakkies word gemaak waarin die doekies gebere kan word.
  • “Omgeepakkies” word ook voortdurend bymekaargemaak in samewerking met die Matjoba Jong-vrouegroep. Hierdie pakkies word deur middel van die SAPD versprei aan vroue en kinders wat slagoffers is van geweld.
  • Opleiding word ook gegee aan vrouegroepe buite die dorpsgrense.

Die volgende vergadering word op 13 Maart om 18:30 by Hippostraat 3 gehou. Die tema is “aktuele sake”.

Skakel Lenie Brink by 082 770 6917 vir meer inligting.

Leave a Reply