Obaro deel inligting

Die gesegde lees “kennis is jou beste wapen” en op 16 Augustus 2016 het 45 skaapboere van regoor Gauteng die Obaro Skaapinligtingsdag by Bosheuvel Country Estate in Muldersdrift bygewoon en hul kennisarsenaal opgeknap.
Obaro het kenners van verskeie velde genader om die nuutste navorsing, wetenskappe en boerderypraktyke aan die boere deur te gee. Malcolm Moodie (Obaro) het voedingspraktyke by skape bespreek, Malan van der Merwe (MSD) het die boere meer oor immunisering vertel en Roger Frewen (Merial) het oor die belang en metodes van ontwurming gesels.
“Daar word nie genoeg klem op skape geplaas in die landbousektor nie,” sê Marié Malan, die Besigheidsbestuurder van die Obaro Pretoria-handelswinkel. “Skaapboere het nie altyd toegang tot die jongste nuus en praktyke, of die tyd om dit te gaan opsoek nie. Die Obaro Skaapinligtingsdag was só opgestel om hierdie gaping te vul.”
Volgens Malcolm Moodie, ’n senior veekundige by Obaro, speel skape se dieet ’n groot rol om produkte te genereer, dit wil sê, vleis, wol en melk. Skape se dieet moet dus só geformuleer word om optimale produksie te ondersteun en voedselverwante probleme te bekamp. Dit is ’n algemene praktyk om skape bloot te laat wei, wat tot gevolg het dat die uiteindelike sukses van skaapproduksie afhanklik is van die kwaliteit van die weidingsgewasse. Ongeveer 5% van alle ooie sukkel om ’n swangerskap deur te voer en 15 tot 20% van alle lammers wat gebore is vrek na geboorte. Alhoewel daar baie oorsake kan wees, speel voeding ’n groot bydraende faktor in sulke verliese. Soos met die ander sprekers was mnr. Moodie se voorlegging propvol wenke en raad wat skaapboere kan help om die gesondheid van hul skape te verseker.
Verskeie van Obaro se top landbouverskaffers, onder andere Cipla, Afrivet, Virbac en Voermol, het die dag as uitstallers bygewoon om hul jongste produkte en dienste te demonstreer. Sommige gaste het ook met verskeie pryse deur gelukkige trekkings weggestap wat MSD entstofsakke, Cipla Complex A&E vir skape, doseerspuite en MSD entstofkoelers ingesluit het.
Relevante en betroubare inligting is belangrik vir enige besigheid en ’n boerdery is geen uitsondering nie. Vir hierdie rede is inligtingsdae een van Obaro se hoof fokuspunte en ondersteun die maatskappy se visie om ten alle tye in lyn met die boer te wees.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.