Obaro loop deur

Dominique Adams wys na waar die diewe die winkel binnegegaan het deur ʼn dubbel baksteenmuur
Dominique Adams wys na waar die diewe die winkel binnegegaan het deur ʼn dubbel baksteenmuur

VAALWATER — Werknemers van Obaro in Vaalwater se Maandag het blou begin toe hulle met die intrapslag om 06:00 vasstel dat daar by hulle ingebreek is en hulle beroof is.
“Ek het eerste by die winkel ingegaan en was dadelik agterdogtig toe ek dele van ‘n rekenaar op die vloer in die bestuurder se kantoor sien lê. Ek het my vrou, Jolene, gekontak en sy het dadelik na die Vaalwater polise gery en hulp ontbied. Daarna het sy Dominique Adams, ‘n werknemer van Obaro, by sy huis gaan haal om my by te staan,” sê Willem Nel van Obaro. Nel en Adams het hulle dadelik na die moniteringskamer gehaas om te sien of hulle iets kon wysraak op die CCTV- kameras. Hulle sê hulle het besef dat die verdagtes nie van hierdie vertrek geweet het nie en hulle is baie dankbaar daaroor.
Mens kan duidelik op die kamera sien hoe drie verdagtes die winkel Saterdagaand 2 April om 21:41 binnekruip. Die verdagtes het flitsligte en alhoewel dit lyk asof hulle weet waar die kameras is, doen hulle niks daaromtrent nie. Na slegs ses minute stap al drie verdagtes rustig uit die winkel, met die hele alarmstelsel toe reeds ontkoppel en gedeaktiveer.
“Hulle verlaat Saterdagaand die winkel met leë hande net om Sondagaand terug te keer”, sê Adams.
Vier verdagtes stap die winkel binne om 19:30 op Sondagaand 3 April. Op die kamera lyk hulle baie georganiseerd en begin stelselmatig die CCTV-kameras se drade afknip totdat die laaste kamera om 20:00 nie meer ‘n beeld het nie.
“Ek het Maandagoggend gaan soek na die plek waar die verdagtes die gebou binnegegaan het en kon my oë nie glo toe ek sien dat hulle deur ʼn dubbel baksteenmuur gebreek het nie – heeltemal aan die agterkant van die een voerstoor. Daarna het hulle deur nog ‘n deur gebreek om die winkel binne te kom,” sê Nel.
Daar is tans nog nie ʼn volledige opname gemaak van wat alles uit die winkel gesteel is nie, maar dit wil voorkom asof die verdagtes slegs na kontant gesoek het.
“Die OTM, kluise en kasregisters was almal oopgebreek, maar meeste hiervan het geen kontant in gehad nie. Hulle het ʼn groot klomp van die winkel se voorraad gebruik om hulle werk stelselmatig te voltooi, onder andere ʼn boormasjien, stofmaskers, hoekslyper, hamers en beitels en nog vele meer. Daar was grootskaalse verwoesting aan rekenaars en ander toerusting aangerig” sê Nel.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.