“Om te vra is nie maklik nie”

Die gesin van klein Bea Jordaan voer ʼn moedige stryd nadat sy met retinoblastoom (tumor by kinders wat in die kiemselle van die retina ontstaan) gediagnoseer is wat hulle lewens eensklaps verander het.

Bea se ma Elna, gebore Roets, se gesin het in 1989 na Vaalwater verhuis en is sy na Laerskool Ellisras waar sy in die koshuis gebly het en daarna na Hoërskool Ellisras vanaf 1992 tot 1996. Na skool werk sy in Lephalale by PG Glas. In 2014 trou sy en in 2015 verhuis hulle vanaf Dendron na Alma en in Desember 2018 hoor sy dat sy swanger is. Hulle was in ekstase. Hul dogtertjie Bea word op 34 weke op 30 Junie 2019 gebore en word vir twee weke in die intensiewe sorg van ’n neonatale afdeling versorg.

Toe Bea se ouers agterkom dat haar linkerogie erg begin skeef trek, het hulle mediese raad ingewin. Op 3 Februarie 2020 sien hulle vir dr Jan Niemandt van die Arkadia-ooginstituut en kry die skoknuus dat Bea bilaterale retinoblastoom, ʼn soort kanker in haar oë, het.

Elna sê alles het daarna baie vinnig gebeur en op 14 Februarie word ʼn port in haar linkeroog ingeplant en sy kry haar eerste chemoterapie as baba op slegs sewe maande.

Elna moes ophou werk want Bea se siekte is lewensgevaarlik en as die kanker sprei gaan dit eerste na die brein.

In Elna se eie woorde: “Ons hele wêreld stort ineen! Na haar MRI-skandering, wys dit die tumor in Bea se ogie is 1.4 x 1.5 cm groot, en die ogie moet dadelik verwyder word.

24 Februarie verloor Bea haar ogie! Finansieel begin dinge moeiliker en moeiliker raak, die onkostes elke keer stad toe raak wild. En toe gebeur Covid-19! Ek en Bea moet vóór elke behandeling gaan vir covid-19-toetse, anders word sy nie toegelaat nie!”

Elna sê verder: “Bea se chemoterapie is nou klaar, maar tans kry sy bestraling in die regterogie. Ons moet elke vier en soms elke ses weke Johannesburg toe gaan vir opvolgondersoeke, Finansieel raak dit regtig moeilik. Carel, Bea se Pappa, is die enigste bron van inkomste. Ek het altyd in my spaartyd voetbehandelings gedoen vir seniors, maar met die covid-19-dinge kan ek dit ook nie meer doen nie, so die bietjie ekstra wat ons gehad het, is nou ook daarmee heen. Ons steun baie op ons ouers vir hulp, en donasies. En glo my as ek sê, om hulp te vra, is nie maklik nie, veral as dit by finansies kom. Tans is Bea se regterogie nog reg, geen nuwe tumors nie. Bea moet egter nog steeds elke ses weke gaan vir in diepte ondersoeke om seker te maak dat tumors nie weer vorm nie, en dit gaan nog vir lank so voortduur. Caring Daisies het vir Bea se kunsogie betaal. Arms of Mercy help ons deur armbandjies te verkoop, wat dan weer help met Bea se mediese uitgawes. Elke maand kry ons ʼn donasie van Cupcakes of Hope. Ongeag hierdie hulp het ons egter reeds ons voertuig verloor, en tans gebruik ons my skoonma se VW GOLFIE.”

Mense wat ʼn bydrae wil maak om die groot uitgawes van klein Bea Jordaan te bestry kan dit in die volgende spaarrekening inbetaal: Rekeninghouer: BH Jordaan, Capitec Modi Mall, tak: 47-00-10, rekening: 169-707-0696.

Inderdaad het die Jordaangesin se lewens totaal verander na Bea se diagnose.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.