Onder die sterre …

Ria Wells
LEPHALALE — Hardekool Akademie het Woensdagaand 15 Maart hulle eie Ghoema-aand onder die sterrehemel gehou.
Ds Arno Nieuhoff van die Afrikaanse Protestante Kerk het die verrigtinge geopen en Wilma Muller, waarnemende hoof, het die verwelkomings gedoen.
Die doel van dié besondere aand is om Afrikaanse sang en musiek te vereer. Die leerders het pragtig gedans en gesing in praguitrustings.
Die beste kinderalbum wat deur hulle aangewys was, is Carika Keuzenkamp se Ghoempie Ghoem Groove, die beste “Rock Band” was ‘n FAK-keurspel en die beste Christelike album was Onbeskaamd met die liedjie Nuwe Generasie.
Laurika Rauch is beskryf as die kunstenaar wat ‘n lewende legende is met musiek wat grense verskuif het en sy is vereer met ‘n Lewensbydraetoekenning. Die pragtige Lhea is aangewys as Nuweling van die Jaar.
Magdaleen Prinsloo wat as compere opgetree het, het gesê dat liedjieskrywers te min erkenning kry. “Woorde kan die siel aanraak”, het sy gesê.
“Eden is as beste liedjieskrywer aangewys met Is jy Bang. En natuurlik verbrand humor meer kalorieë – die energieke vertolking van Robbie Wessels se Makarena Mamba het groot aftrek gekry, soveel so dat dit ‘n tweede beurt gekry het en die aand daarmee afgesluit is.
Die Gewildste Liedjie was niks anders as Hardekole van Adam Tas nie.
Magdaleen het ouers, borge en onderwysers bedank wat dié wonderlike aand moontlik gemaak het en gesê dat dit ‘n groot voorreg is om musiek saam met die kinders te kan geniet!
Die aand is afgesluit met ‘n lekker bord kos en kuier tot laataand.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.