Ondersteun kliniek!

Die tuin en perseel rondom die Vaalwaterkliniek in Lesideng lyk power en kort dringend aandag
Die tuin en perseel rondom die Vaalwaterkliniek in Lesideng lyk power en kort dringend aandag

VAALWATER — Vaalwaterkliniek, geleë in Lesideng, is onlangs tot een van die beste klinieke in Limpopo verkies. Die kliniek het die “Ideal Clinic in Limpopo” toekenning verower en stof in hulle opponente se oë geskop deur 95% vir hul toetsuitslae te behaal.
“Een van ons belangrikste doelwitte was om wagtye vir pasiënte te verminder en om meer produktief in die hantering van gereelde pasiënte te word. Ons het beide hierdie doelwitte bereik en oortref,” sê Annemarie van Zyl, kliniekbestuurder.
Sy beklemtoon wel dat die kliniek die ondersteuning van die gemeenskap en politieke raadslede broodnodig het om selfs nog beter te kan presteer.
“Ons het vroeër jare ʼn kliniekkomitee gehad wat uit lede van die gemeenskap bestaan het. Die komitee het dan die kliniek bygestaan in sekere areas, veral die hantering van die perseel en gronde rondom die kliniek. Ongelukkig het die komitee later ontbind, maar ons sal graag weer so iets op die been wil bring,” sê Van Zyl.
Daar is heelwat ruimte vir ‘n mooi tuin, maar die gras is tans lank en onversorg. Hulle benodig gemeenskaplede wat dalk behulpsaam kan wees met tuinuitleg of lesers wat moontlik droogte-bestande plante aan hulle kan skenk. Daar is ook ‘n behoefte aan mense wat op ʼn weeklikse of twee-weeklikse basis kan help om die gronde en tuine te onderhou en netjies te maak.
“Ons het glad nie ʼn tuinier of enigsins ʼn begroting vir ʼn tuinier nie, maar vra die gemeenskap om ons asseblief te help” sê Van Zyl.
Die kliniek hanteer tans 6 500 pasiënte per maand.
“Baie dankie ook aan Petrus Matlou, wat vrywillig die gras met ‘n trekker kom sny het. Ons waardeer dit verskriklik baie” sê sy.
Skakel Annemarie van Zyl by 082 739 6908 of stuur ʼn e-pos na annemarie.smvanzyl@gmail.com vir meer inligting.
Die kliniek werk volgens afsprake wat vooraf gemaak kan word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.