Ongemerkte spoedwalle is gevaarlik

LEPHALALE — Daar is verskeie spoedwalle met geen waarskuwingsbordjies vóór die walle nie en/of waar geen duidelike aandagmerkers (strepe) op die walle sigbaar is nie in Lephalale-dorp en Onverwacht.

Die strepe het waarskynlik verbleik in die bloedige Bosveldson en daar is geen deurlopende instandhouding gedoen nie.

Spoedwalle word aangebring in ʼn pad om bestuurders te dwing om stadiger te ry. Indien ʼn bestuurder onbewus is van ʼn spoedwal kan dit gebeur dat, selfs teen ʼn redelike lae spoed, die voertuig nie genoeg bakwring het om die bestuurder of passasier(s) teen beserings tydens die trefslag te beskerm nie. Dit is belangrik om versigtig oor spoedwalle te ry vir almal in die voertuig. Skade kan ook aangerig word aan lae voertuie as die spoedwal nie reg benader word nie.

Veral mense met rug-, nek- en heupprobleme; die met inplantings soos knievervangings; lyers van siektes soos osteoporose en pasiënte wat met beserings vir behandeling of hospitaalopname vervoer word, is kwesbaar indien daar ʼn onverwagse opwip-aksie plaasvind en die voertuig weer vinnig neerwip aangesien dit byna dieselfde beginsel is soos wanneer iemand ʼn sweepslagbesering opdoen.

Ongemerkte spoedwalle kan vir padgebruikers, wat nie bekend is met ʼn straat nie, juis die gevaar inhou dat dit geringe tot ernstige ongelukke kan veroorsaak in plaas daarvan dat dit eintlik ongelukke moet voorkom.

Mogol Pos het per e-pos navraag gedoen hieroor by die Lephalale Munisipaliteit en volgens Conscious Chiloane, kommunikasiebestuurder by die munisipaliteit sal hulle dit graag wil regstel en sy het Mogol Pos versoek om die name van die strate waar die spoedwalle nie duidelik is nie, aan hulle te stuur sodat dit reggestel kan word.

E-pos gerus straatname en/of foto’s van ongemerkte spoedwalle in jou omgewing na sub@mogolpos.co.za sodat dit aan die munisipaliteit deurgegee kan word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.