“Ons vat dit dag vir dag”

BULGERIVIER — Die 5-jarige Dawid du Plessis, die seun van Phillip en Retha du Plessis, wat Dinsdagaand 23 Januarie deur ʼn Mosambiekse spoegkobra in sy huis in die Bulgerivier-omgewing gebyt is, was Woensdag 31 Januarie vir die derde keer teater toe om die wonde aan sy hand skoon te maak en vas te stel in hoe ʼn mate die swelling gesak het.
“Die dokter is tevrede met sy vordering, maar dit bly steeds ʼn van-dag-tot-dag-situasie,” sê Retha.
Teen druktyd was hy geskeduleer om Maandag 5 Februarie weer teater toe te gaan om die wonde te versorg en as alles volgens plan verloop sal die dokters hom Vrydag 9 Februarie weer evalueer. Volgens Retha kan hy dan moontlik vir drie weke huis toe gaan waarna ʼn veloorplanting gedoen sal word. Daarna volg verskeie fisioterapie-, arbeidsterapie- en wondbehandelings.
“Dit is die plan, maar ons weet nie wat hou môre vir ons in nie. Ons vat dit maar dag vir dag, want ons weet die planne wat ons maak kan enige tyd verander,” het Retha Dinsdagaand vir Mogol Pos gesê.
“Ons wil uit ons harte dankie sê vir die gemeenskap en almal se ondersteuning. Dis lekker om deel te kan wees van so ʼn wonderlike gemeenskap. Dankie vir almal se gebede in dié moeilike tyd. Ons waardeer dit ongelooflik baie. Dit hou ons staande,” sê Phillip en Retha.
Die uitslag van Woensdag se teatersessie was teen druktyd nog nie bekend nie.
Dawid het tydens die voorval Dinsdagaand reeds geslaap in sy ouers se kamer toe hy sy ma, Retha roep. Die slang het haar in haar regteroog gespoeg en Dawid op sy linkerhand gebyt. Die Du Plessis-gesin woon en werk by The Fold-kinderhuis in die Bulgerivier-
omgewing.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.