Ons water word min

Dr Piet Goosen en Connie Gouws in diep gesprek tydens die Algemene jaarvergadering van die Mokolo Watergebruikersvereniging
Dr Piet Goosen en Connie Gouws in diep gesprek tydens die Algemene jaarvergadering van die Mokolo Watergebruikersvereniging

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die Algemene Jaarvergadering van die Mokolo Watergebruikersvereniging (MWGV) is Vrydag 23 September by die Palm Park Hotel gehou en meer as 60 belanghebbendes het die vergadering bygewoon.
Daar is tydens die vergadering bepaal dat die Departement Water en Sanitasie (DWS) wel ondersoeke geloods het na onwettige bedrywe in die Mogolrivier. Die betrokke persoon het uitstel gekry tot 30 September om bewyse te lewer dat daar nie teen die wet oortree is nie.
Nuwe wyksverteenwoordigers sou verkies word, maar as gevolg van ‘n gebrek aan ‘n kworum is daar nie ‘n nuwe verteenwoordiger vir wyk 2 gekies nie.
Terugvoer is gegee dat biomassa-meting in werking is, maar dat daar sekere tekortkominge in die stelsel is wat nog aangespreek moet word. Die ideaal is dat biomassa-beelde twee keer per jaar gemeet word sodat totale aanplantings bepaal kan word.
Wolfie Jahn van Tehila Boerdery het tydens ‘n voorlegging aangedui wat die inlysting vir elke wyk is en wat die impak is wanneer die Mokolodam nie oorloop nie. Wanneer die Mokolodam nie oorloop nie, soos vanjaar die geval is, kan boere slegs 41% van hulle inlysting aanplant. Daar is ook aangedui dat 5 600 000 m³ water per jaar losgelaat word vir die ekologie in die rivier. Die keerwalle naby die Limpoporivier se kapasiteite is onderskeidelik 1 000 000 mᵌ (Windhoek), 1 000 000 mᵌ (Wolmunster) en 850 000 mᵌ (Samevloei), wat ‘n totaal van 2 850 000 mᵌ is.
Hy het die noodsaaklikheid van watermeters beklemtoon en gesê alhoewel hektare ingelys is, is dit gekoppel aan watervolumes en volgens die DWS word daar 7 000 mᵌ per hektaar per jaar toegelaat. Kubieke meters toegelaat sal aan elke boer voorsien word – gedurende droë seisoene sal verlaagde kwotas toegeken word aan elke gebruiker. “Watermeters sal geïnstalleer word om watergebruik te kan moniteer” het hy gesê. Die installering van watermeters sal egter oor drie jaar infasseer word. Gedurende die eerste jaar moet verbruikers wat 20 ha, of meer besproei, (insluitende waterregte wat gehuur word), watermeters installeer. In die tweede jaar moet boere wat minder as 20 ha, maar meer as 10 ha besproei, watermeters installeer en dié wat minder as 10 ha besproei kan watermeters in die derde jaar installeer.
MWGV gaan die meters en moniteringstoerusting aankoop waarna die gebruiker dit van die MWGV kry en dit self installeer of ‘n kontrakteur kry om dit te installeer. Die gebruiker kan die geld terugbetaal aan die MWGV, of indien finansies nie onmiddellik beskikbaar is nie, kan daar met die MWGV ‘n reëling getref word.
Volgens Francois van den Berg, voorsitter van die MWGV, was die Mokolodamvlak op Vrydag 23 September 68.82%. Die damvlak is steeds hoër as baie ander damme se vlakke, maar dit is onrusbarend laag in vergelyking met vorige jare. Die damvlak het verlede jaar dieselfde tyd op 94% gestaan, in 2014 op 97% en in 2013 op 93%. Die water raak dus minder.
Daar is verder tydens die vergadering weereens beklemtoon dat boere wat uit die rivier besproei vanjaar slegs die helfte van hulle kwota mag gebruik om aan te plant. Daar is nou reeds 12 000 000 m³ water losgelaat. Die laaste 4 000 000 m³ water sal gedurende November en Desember losgelaat word en indien daar nie binnekort goeie reëns val nie, gaan daar aan die einde van Januarie 2017 nie meer water in die rivier wees nie.
Die DWS se oorhoofse waterbestuursplan behels dat hulle wil weet wat elke watergebruiker (Eskom, die myn, munisipaliteit en die MWGV) met die water doen. Die MWGV moet dus kan aandui hoeveel hektaar geplant word, hoeveel m³ water uit die rivier onttrek is, wat geplant word en vir hoeveel mense dit werk verskaf.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.