Ontbossing verg kennis

LEPHALALE — Jaco Swanepoel, bewarings- en omgewingsbeampte, het Donderdag 28 Junie ʼn reuse bydrae gelewer tot omgewingsbewaring.

Die ontbossingspan het baie waardevolle kennis opgedoen

Jaco het die ontbossingspanne wat die skouer van die Visgatgrondpad moes ontbos, meer geleer oor die belang van beskermde en skaars bome.

Volgens Jaco het Pam du Plessis, ʼn inwoner van die omgewing, hom geskakel en gevra om te gaan help nadat sy gesien het die spanne kap die bome en bosse voor die voet af.

Hy het met die span gepraat en vir hulle gevra wat hulle kennis is van bome en of hulle weet watter bome hulle mag afkap en watter nie. “Ek het besef hulle kennis is beperk en alhoewel hulle geweet het dat hulle nie maroelabome mag afkap nie, het hulle nie geweet hoe lyk ʼn (veral jong) maroelaboom nie,” sê Jaco.

Jaco het die bome wat hulle nie moes verwyder nie met wit stringe toiletpapier gemerk.

Volgens Jaco was hy ook verbaas dat hulle toerusting en veiligheidsklere nie volgens standaard was nie. “Hulle het byvoorbeeld nie handskoene gehad nie en met net pangas en sae tot hulle beskikking sal dit hulle baie lank neem om te ontbos. Hulle het spesifieke elektriese toerusting nodig. Dit het ook geblyk dat hulle nie opgelei is vir die werk nie,” sê Jaco verder.

Die feit dat hulle nie die afgesaagde stompe behandel sodat dit nie weer uitloop nie, verdubbel die probleem.

“Waar daar een boom se stam afgesaag is en dit word nie behandel nie, kan daar tot 10 stamme daaruit hergroei. Die term wat ons daarvoor gebruik is ‘coppice’,” sê hy.

Bome wat byvoorbeeld nie afgesaag mag word nie is die maroela (veral jong bome), die witgat, stinkwitgat, wurmbasvalsdoring en die knoppiesboontjie. Volgens Jaco is laasgenoemde nie bedreig nie, maar wel baie skaars.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.