Ontmoet mnr Bosveldfees…

Johan-Koekemoer-(2)

Leoni Kruger
LEPHALALE — Johan Koekemoer, die nuwe voorsitter van die Bosveldfeesbestuur, het groot skoene om vol te staan. Marie Seegers, die vorige voorsitter, het dié gewilde fees vir baie jare georganiseer en gesorg dat al die reëlings seepglad verloop.
Johan beskryf sy pos as “die persoon wat al die toutjies bymekaar hou”.
Hy weet egter dit is nie ‘n joppie wat hy ligtelik kan opneem nie en daarom het hy en sy komitee besluit om nie te veel te verander aan ‘n konsep wat vir 30 jaar ‘n sukses was nie.
“Elke komiteelid het ‘n portefeulje waarvoor hy/sy verantwoordelik is en hulle het weer mense wat aan hulle verslag doen. Die agt lede van die dagbestuur is gekies om kritiese besluite te neem en enige fondse wat gespandeer word moet deur dié komitee goedgekeur word” sê hy.
Johan sê hulle is wel in gesprek met al die onderskeie sportdissiplines by Mogolkub vir ‘n moontlike verskeidenheid van sportoptredes, maar die basiese reëlings gaan dieselfde bly.
Die groot jaarlikse aantrekkingskrag van die fees bly natuurlik steeds die optredes van kunstenaars in die biertent. Mogol Pos het vertroulik van ‘n paar kunstenaars verneem wat reeds bespreek is en definitief gaan optree (dié lekkerte word vir later gebêre).
Johan sê hy is reeds sedert 2013 op die Bosveldfeesbestuur en het betrokke geraak omdat sy dogter se kleuterskool by die “token” verkope betrokke was. “Ek het besef daar is ‘n tekort aan beheer van die skool se kant af en in 2014 is hy as komiteelid aangestel in beheer van die “tokens” en biertent.
Benewens die feit dat daar ‘n paar maande van baie harde werk voorlê, is Johan intussen ook pa vir die sewejarige Mari-Louise, wederhelf vir Lizl Koekemoer en omgewingsbestuurder by NCC Environmental Services. ‘n Hele mondvol.
Lesers kan solank die datums 6-9 Julie 2016 opsy sit om vanjaar se Bosveldfees te gaan geniet soos net die Bosvelders dit kan doen.
Die Bosveldbal word oudergewoonte die voorafgaande Vrydagaand gehou waartydens Mej. Bosveld 2016 gekroon sal word. Hou gerus die Mogol Pos dop vir meer besonderhede oor inskrywings en nog baie ander Bosveldfeesnuus.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.