Onwettige immigrante probleem

Leoni Kruger
LEPHALALE — “Onwettige immigrante is ‘n probleem” sê Thys Eloff, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
“Die persoon is in Suid-Afrika (of dan Lephalale) en hy of sy moet bly leef” sê hy.
Eloff het gesê daar moet liewer na oplossings gekyk word, want die mense kan nie in byvoorbeeld Zimbabwe oorleef nie, dan kom hulle oor die grens Lephalale toe met groot verwagting dat hulle hier gaan werk kry. As hulle nie werk kry nie, moet hulle op ‘n manier oorleef en dit lei tot diefstal en inbrake.
Hy het ‘n voorstel gemaak dat daar ‘n sentrum vir immigrante daargestel word waar daar ‘n wettige ID uitgereik word. “Dan weet die owerhede ten minste waar die persoon werk. Nou loop hulle rond en soek werk” sê hy.
Eloff sê daar vra ten minste 10 tot 15 mense vir hom vir werk elke week.
“Ons moet ‘n sisteem kry met ‘n verwysing sodat ons dit kan beheer” het hy gesê.
Eloff het verder gesê daar bestaan ‘n wanindruk dat dit net buitelanders is wat betrokke is by misdaad en dat die plaaslike mense daarvan bewus is. “Hulle hou die buitelanders voor as die skuldiges, want hulle weet hulle is onwettig in die land” aldus Eloff.
Hy het ook gesê dat hulle toegelaat word om tot hier te kom, dan word hulle gearresteer, gedeporteer en môre is hulle weer terug en op soek na werk.
“Dit klink vir my na ‘n beter opsie om jou buitelandse werkers na die polisiestasie toe te neem sodat hulle geregistreer kan word” het hy afgesluit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.