Onwettige jag neem toe!

BESKA — Drie mans, Sameul Masedi Sekanka (32), Ben Onne Matabologa (29) en Tshiamo Caswell Kgang (23), is Saterdag 26 Mei in die vroeë oggendure in die Beska-omgewing deur Lephalale Polisie gearresteer nadat hulle in besit gevind is van twee vlakvarke wat onwettig met honde gejag is.

Hulle het Maandag 28 Mei vir die eerste keer in die Landdroshof in Lephalale verskyn en skuldig gepleit. Die saak is uitgestel na Donderdag 31 Mei en hulle is skuldig bevind op aanklagte van onwettige jag met honde en verwante sake.

Die onderskeie beskuldigdes is elk gevonnis tot ses maande gevangenisstraf opgeskort vir drie jaar; ʼn kompensasiebedrag aan die plaaseienaar; 24 maande korrektiewe toesig (dit behels huisarres waarby die onderskeie beskuldigdes beperk is tot werk en kerk, geen alkohol of dwelms mag gebruik word nie, hulle mag nie van adres verander nie en mag nie die jurisdiksie van die landdroshof verlaat nie); gemeenskapdiens van 384 ure elke tweede Saterdag van 08:00 tot 15:00 by Lephalale Polisie en Seleka-kliniek. Hulle is laastens verplig om ʼn “Life Skill Problem Solving” program te volg.

Volgens ʼn lid van die Beska Palala-gemeenskap (BOG), het gemeenskapslede opgemerk dat daar die afgelope maand ʼn geweldige toename was in onwettige jag – spesifiek onwettige jag met honde en strikke – in hulle omgewing, ten spyte daarvan dat daar skuifhekke aangebring is vir die gemeenskap se veiligheid. Hy sê een van die skuifhekke op die Groblersbrugpad het nie gewerk nie, omdat die sonpanele gesteel is en hulle het opgemerk daar is ʼn geweldige toeloop van ongemagtigde en onbekende voertuie by die hek. “Daar was oor die algemeen baie beweging daar,” sê hy.

Op Vrydag 25 Mei omstreeks 21:00 het sekuriteitskameras by die hekke weer ʼn onbekende voertuig aangedui wat deur die hek gery het en die BOG-gemeenskap het vinnig gereageer en ondersoek gaan instel. Saterdagoggend omstreeks 04:00 is drie verdagtes in besit van twee vlakvarke, wat onwettig met honde gejag is, aangekeer. Volgens Derick Kitching, ʼn lid van BOG, het die verdagtes op die toneel erken dat die vlakvarke reeds Donderdagaand 24 Mei deur honde gejag en doodgemaak is, waarna hulle geslag en in die veld gebêre is om Vrydag op te laai. Die SAPD is op hierdie stadium ontbied en die arrestasies is gemaak.

Volgens Kitching was daar Maandag 28 Mei ʼn soortgelyke voorval onder soortgelyke omstandighede. Die gemeenskap het navraag gedoen oor ʼn wit Audi A4 wat betrokke was by die aflaai van honde en die oplaai van vleis in die Tafelkop-omgewing. Lede van die gemeenskap het gereageer en op twee Audi A4-voertuie en ses mense in die omgewing afgekom. Daar was onder andere ʼn bebloede byl, twee spiese en ʼn rugsak in die voertuie gevind, maar blykbaar het die SAPD niemand gearresteer nie weens ʼn gebrek aan genoegsame bewysstukke.

Die lede van BOG met wie Mogol Pos in gesprek was, het beklemtoon dat die gemeenskap sal moet saamstaan om die SAPD by te staan. “Die SAPD het nie genoeg mannekrag of gemagtigde hulpbronne om hierdie misdade en aktiwiteite alleen hok te slaan nie.

“Hierdie onwettige jagters en wilddiewe werk vir ʼn sindikaat waar daar ʼn groter party of partye betrokke is wat die voertuie en die drywers bemagtig en wat jagters werf om in die proses diere onwettig te jag. Die vleis word nie vir oorlewing gebruik nie, die vleis word verkoop vir finansiële gewin en dit is glad nie net ou voertuie wat gebruik word nie. Dit kom voor op privaatgrond sowel as eiendom wat reeds deur die staat onteien is – tipies op eiendomme waar daar niemand woon nie. Die diewe is veral aktief net voor of tydens volmaan en dit het aansienlik toegeneem, veral in die BOG-omgewing,” sê hulle.

Volgens inligting is die honde wat vir jag gebruik word meesal in ʼn haglike toestand. Hulle tonge word soms uitgesny sodat hulle nie kan blaf nie en hulle word uitgehonger sodat hulle enigiets sal aanval. Hulle vang uiteindelik die wild omdat hulle honger is.

Die gemeenskap word aangemoedig om enige vreemde voertuie of gedrag by die GPF-dienskamer aan te meld by 081 701 1089 of 076 031 8383 en om betrokke te raak in die plaaslike gemeenskap by wyse van radioroepe en sigbaarheid.

Die boere in die BOG-area bedank een en elke persoon wat onbaatsugtig baie ure en geld afstaan om hierdie misdadigers aan te keer. “Die GPF en die gemeenskap vul die gate waar die SAPD nie kan wees nie,” sê hulle.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.