Oorleef gru-botsing

Leoni Kruger
LEPHALALE — Twee voertuie is afgeskryf na ‘n ongeluk op die R33 (nuwe Vaalwaterpad) omstreeks 14:45 op Vrydag 23 Junie. Die vooval het ongeveer 20 km voor Lephalale plaasgevind. ‘n Gesin van vier het dit wonderbaarlik oorleef.
 Volgens Ferdi Everts (39), die bestuurder van die Ford Ecosport wat ‘n sleepwa getrek het, het hy gesien die Toyota Conquest beweeg “egalig” oor na die regterbaan waar hy gery het. Hy sê dit het amper gelyk of die bestuurder nie op die pad gefokus het nie. “Toe ek sien die voertuig is nou gevaarlik naby het ek terug na die linkerbaan beweeg, maar dit was te laat en die Conquest het ons sleepwa getref. Die impak daarvan het veroorsaak dat ons voertuig rol” sê Ferdi.
Ferdi, sy vrou Trudi (37) en hulle twee seuns, Zachary (12) en Colin (9) was vanaf Pretoria op pad na ‘n plaas naby Tolwe waar hulle bespreek het vir ‘n jagnaweek.
Ferdi praat met groot lof van die personeel van JD Towing wat vinnig op die toneel was en Trudi en die seuns Mediclinic toe geneem het. “Hulle was besonder behulpsaam en vriendelik” sê hy.
“Dit is groot genade dat ons almal leef en nie ernstig beseer of dood is nie. Ons het gelukkig al vier ons veiligheidsgordels aangehad” sê Ferdi.
Die twee seuns het baie kneusplekke opgedoen en Colin het sy hand op die pad oopgeskuur. Hy kry daagliks wondbehandeling, hy het ook ‘n wond agter sy een oor nadat ‘n kampstoel, wat in die sleepwa was, hom getref het.
Ferdi sê alhoewel hulle almal aan skok gely het, het sy pa vir hom ‘n voertuig gebring en hulle het tog hulle jagnaweek voortgesit. “Dit het ons aandag bietjie van die skokkende voorval afgelei” sê hy.
“Ons gesin is diep dankbaar vir die groot genade dat ons almal se lewens gespaar is”.
Volgens die polisieverslag is die ongeluk veroorsaak deur ‘n band van die Conquest wat gebars het. Dit kon nie bevestig word nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.