Op reis saam met Cecilia

LEPHALALE — Sy is ontstellend eerlik. Het geen geheime agendas nie. Sy glo regtig aan liefde, maar het al die lewe “geleef”. As daar ’n storie in haar kop vorm aanneem moet sy dit skryf. As sy dit probeer “binnehou” is dit onmoontlik om met haar saam te leef. Sy beny ander skrywers wat die luukse het om voltyds of in die stilte voor die son opkom te skryf.

Cecilia Slykhuis sê na tien Romanza-boeke was sy reg om ’n dieper storie te vertel. ’n Storie wat reeds die afgelope vier jaar deel van haar lewe was.

Haar eerste volwaardige liefdesroman, ’n Engel in die kool is pas deur Lapa uitgewers goedgekeur en sy is reeds besig om ’n opvolgboek ’n Engel oor die water te skryf.

Sonder om die hele storie uit te blaker net ’n vinnige lusmakertjie:
’n Engel in die kool neem jou op ’n reis saam met ’n vrou wat niks anders ken as ’n ma wat elke dan en wan saam met ’n ander man in die bed spring nie. Die dogters word so groot en vir hulle is dit normaal.

“Elke mens se ‘normaal’ verskil afhangende van hoe jy grootgeword het.
“Dit gaan oor ’n vrou wat onder andere met haar geloof worstel. ’n Gewone vrou met plooie en ‘issues’. Met ’n skeut liefde daarby,” vertel sy.

En die naam? Sy het op ’n dag ’n koolkop in die middel deurgesny en die lyne van die deurgesnyde koolkop het kompleet gelyk soos ’n engel.

Dié boek het glad nie dieselfde tema as haar ander boeke nie.
“Dis ’n dieper boek. Daar is definitief ’n Christelike strekking, maar dit is nie ’n Christelike boek nie. Daar is vloekwoorde in waar dit gepas is, want ek vloek wanneer ek voel dit is gepas en jammer as dit ander mense aanstoot gee. Dit is ’n realistiese boek, en ek het empatie omdat daar al baie goed met my in my lewe gebeur het. As jou lewe net heeltyd mooi loop kan jy nie empatie hê nie. En as jy in daai wêreldjie grootword waar alles mooi en blink is en alles ruik lekker en jy word nooit daaruit gehaal nie, gaan jy nooit groei nie,” sê Cecilia.

Sy sê soos met enige ander storie wat sy al ooit geskryf het, het sy dit nie uitgedink nie. “Mens kry net hierdie idee. Ek loop baie lankal met hierdie ding van die hoe mens dink die manier hoe jy grootword is reg. As jou ma rondslaap en tien kêrels het, dan dink jy dis die norm. Op ’n stadium dink jy dalk dis nie heeltemal reg nie, maar dan gaan jy maar aan. Dit is waarom so baie mense herhaal wat hulle ouers gedoen het. Jy gaan maar weer terug na dieselfde plek toe, want dit is wat jy ken.

Ek was nog altyd lief vir romantiese stories met ’n aantreklike held en ’n beeldskone heldin, maar ek het regtig gevoel baie mense is so veroordelend. Mense sê so maklik ‘kyk hoe ’n slet is sy’, maar hoe weet jy waar sy vandaan kom en waarom sy so optree?

“Ek wou nooit ’n preekboek skryf om ’n lessie te gee nie, ek dink wel die boek gaan jou nog ’n rukkie laat dink”.

’n Engel in die kool is vanaf Mei 2020 beskikbaar.

Cecilia is ’n lektor by Lephalale TVET Kollege, ma, vrou en skrywer, en sy doen manuskripontwikkeling vir LAPA-uitgewers. Sy skryf onder die naam Cecilia Nortjié.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.