Op slag dood

LEPHALALE — Cobus Pretorius (23) is Saterdagoggend 27 Mei omstreeks 08:00 op slag dood in ‘n ongeluk op die Vrymansrus-grondpad buite Vaalwater.
Volgens konstabel Simon Makuvele van Vaalwater SAPD was beide Cobus en sy vriend Theuns Pretorius, uit die Toyota bakkie geslinger en kan daar nog nie bevestig word wie die voertuig bestuur het nie. Makuvele sê die bestuurder het waarskynlik beheer oor die voertuig verloor op ‘n skerp draai. Die voertuig het ‘n paar keer gerol.
Theuns was teen druktyd steeds in ‘n hospitaal in Benoni en volgens Makuvele is sy toestand kritiek. Hy kon nog geen verklaring aflê nie en daarom weet hulle ook nog nie wie die bakkie bestuur het nie.
Cobus en sy vrou, Mia, en hulle 3-jarige dogtertjie Mieshke, was blykbaar vir die naweek naby Vaalwater by Cobus se ouers, Cobus en Cecilia Pretorius. Dit kon nie bevestig word op pad waarheen Cobus en Theuns was toe die ongeluk gebeur het nie.
Volgens Mari Smit, Mia se ma, is hulle self nog onseker oor presies wat gebeur het, maar hulle harte is net stukkend vir Mia en Mieshke se onthalwe.
Cobus en Mia sou op 23 Julie vanjaar presies ‘n jaar getroud wees.
Verskeie boodskappe van medelye is sedert die voorval op Mia se Facebook-blad geplaas en dit is duidelik dat Cobus baie geliefd was onder sy vriende en in die gemeenskap.
Vaalwater Polisie het bevestig dat ‘n saak van strafbare mansslag by hulle geopen is.
Die begrafnisdiens word Vrydag 2 Junie om 10:00 vanuit die NG Kerk Albertyn gehou.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.