Operasie CORONO — grensboere se voorland

Verskeie boere met grensplase het opgedaag by die “grensvergadering”
Verskeie boere met grensplase het opgedaag by die “grensvergadering”

Leoni Kruger
LEPHALALE — ‘n Spesiale “grensvergadering” is Vrydag 19 Februarie by Agri se kantoor gehou. Lt. Kol. Johan Herbst van die SANW se taktiese hoofkantoor in Polokwane het die vergadering gelei.
Lt. Kol. Herbst het gesê dat hulle opdrag van die regering af gekry het dat veiligheidsoperasies vanaf middel Maart 2016 op die grens uitgevoer gaan word. Die operasie word operasie CORONA genoem.
Hy het verduidelik dat die verskil tussen grensbeheer en grensbeveiliging legio is en dat hulle getaak is vir grensbeveiliging. “Dit beteken selektiewe ontplooiing in probleemareas volgens die inligting wat aan hulle beskikbaar is” sê hy. Hy het verder verduidelik dat grensbeveiliging landoperasies sowel as lugoperasies insluit. “Ons mandaat sluit spesifiek alle grensposte uit, ons doen net grenslynoperasies”.
Volgens Lt. Kol. Herbst gaan daar spesifiek gekonsentreer word op Swartwater en Rooibokkraal en hulle maak staat op die boere as inligtingsbron.
Hy het verder gesê dat om die Botswanagrens te beveilig, ‘n prioriteit vier operasie is. “Daar is min onwettige bedrywe in terme van smokkel en mense wat die land onwettig binnekom. Botswana is boonop ‘n stabiele land met ‘n 2% werkloosheidsyfer. Die regering fokus op hoër prioriteit-areas waar smokkelary en onwettige instroming van mense gereeld voorkom” sê hy.
Die Groblersbrug – en Stockpoort grensposte word as fokuspunte beskou.
Lt. Kol. Herbst het die vergadering daarop gewys dat die spanne wat die grensbeveiliging gaan doen, wel toegang sal moet hê tot die plase, want dit is vanwaar hulle gaan opereer. “Ons gaan van tentfasiliteite gebruik maak en dit gaan op plase moet plaasvind in samewerking met die polisie en alle rolspelers op die grens” sê hy.
Hy het die grondeienaars verseker dat troepe nie op die grond mag rondloop sonder die toestemming van die plaaseienaar nie. Hulle mag onder geen omstandighede jag nie – nie eens met die toestemming van die grondeienaar nie. Die enigste geval waar hulle mag rondbeweeg op die grond sonder vooraf toestemming van die eienaar, is as hulle op soek is na ‘n verdagte wat op die plaas skuil.
Volgens Herbst is daar ‘n paar uitdagings waarvoor hulle te staan gaan kom. Die Samil-voertuie waarmee hulle ry loop breër as die meeste tweespoorpaaie op plase.
Hy sê hulle maak gewoonlik voorsiening vir genoeg water, maar aangesien dit so droog is, mag die troepe dorser wees as normaalweg. Hy het die grondeienaars dus versoek om vir die troepe water te gee sou hulle daarna vra.
Die ander uitdaging is dat die infrastruktuur op die paaie moontlik ontwikkel sal moet word.
Die grondeienaars het na afloop van die voorligtingsessie gesê hulle meen die probleem is nie op die grens nie, maar in die dorp self. “Hier is miljoene onwettige elemente in die dorp en hulle is die bedreiging”. Iemand het opgemerk dat hulle baie veiliger voel op die plaas as in die dorp, want baie mense wat oor die grense na Lephalale gekom het is moontlik nou sonder werk.
Vrae is ook gevra ten opsigte van misdaad wat moontlik deur die troepe geïnisieer kan word, of inligting wat kan lek. Wat gebeur as die troepe slaags raak met die plaaswerkers?
Voorsitter van Agri Lephalale, Francois van den Berg, het gesê die boere het nie ekstra probleme nodig nie. Hy het gevra wat is die prosedure wanneer ‘n troep onwettig optree, waarop Lt. Kol. Herbst geantwoord het dat die plaaseienaar die saak by die polisie moet aangee, dan sal die oortreder gearresteer word en die grondeienaar stel ‘n eis in teen die weermag. Van den Berg het hierop gereageer: “dan word dit die boer se probleem?”
Van den Berg het ook aanbeveel dat al die grondeienaars hulle plaasprotokol deeglik bestudeer en navolg sodat hulle hulself en eiendom kan beskerm.
Lt. Kol. Herbst het gesê in gevalle waar ‘n lid van die weermag ‘n misdryf pleeg, word hy huis toe gestuur en hy mag vir die volgende vyf jaar nie weer êrens in die weermag ontplooi word nie.
Hy het ten slotte gesê die troepe word waarskynlik teen die einde van Maart ontplooi en daar word elke ses maande van troepe verwissel. Die grondeienaar moet self ‘n aanduiding gee waar hulle kan kamp – hulle moet die grens patroleer vir ‘n 10 meter strook. Die troepe sal almal gewapen wees met ‘n R4- en ‘n haelgeweer.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.