Opperman herarresteer

MODIMOLLE — Jaco Opperman (33) het Maandagoggend 29 Januarie in die Landdroshof in Modimolle verskyn op ʼn klag van ontsnapping nadat hy na bewering op ʼn onwettige manier borg betaal en vrygelaat is. Die saak is uitgestel na 12 Februarie vir ʼn formele borgaansoek. Hy bly intussen in aanhouding.

Opperman is Vrydag 26 Januarie na ʼn lang soektog deur Modimolle Polisie herarresteer nadat die polisie ʼn wenk gekry het dat hy, saam met ʼn vrou wat hy in 2017 deur middel van Facebook ontmoet het, in Potchefstroom in Noord-Wes wegkruip. Hy het die naam “Herman Calitz” gebruik.

Opperman is aanvanklik in Augustus 2017 in Witbank, Mpumalanga, gearresteer nadat hy verskeie mense van hulle swaarverdiende geld beroof het. Hy word reeds sedert Mei 2016 deur die polisie gesoek.

Opperman het mense bedrieg deur te adverteer dat hy buffels verkoop en niksvermoedende vermeende kopers het sowat R60 000 in sy rekening gedeponeer, waarna hy verdwyn het. Drie bedrogsake is teen hom geopen en die soektog het begin.

Hy het op 20 September 2017 in die Landdroshof in Modimolle verskyn. Die saak is uitgestel en hy het in aanhouding gebly. Hy is na Pretoria geneem, maar hy het dit op ʼn manier reggekry om borg van R500 te betaal.

Die borg is egter nooit gedurende sy hofverskyning toegestaan nie. Hy was veronderstel om Maandag 16 Oktober in dieselfde hof te verskyn, maar hy was nêrens te vinde nie.

Voorlopige polisieondersoeke het daardie tyd gedui op moontlike hulp en bystand en ʼn saak van ontsnapping uit aanhouding is geopen. Sake van dwarsboming van die gereg is teen hom geopen asook sake van hulp en bystand teen die landdros en ’n adjudant-offisier van die SAPD.

Strafregtelike en interne ondersoeke in dié verband duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.