OTM-bedrog neem toe

LEPHALALE — Een verdagte is Saterdagmiddag 30 Junie omstreeks 18:43 in Rustenburg aangekeer in verband met ATM-diefstal by Lephalale Square Saterdagmiddag rondom 12:20.

Hier kan duidelik gesien word hoe die verdagte die dame by die OTM probeer “help”

Volgens Thys Eloff, voorsitter van die Lephalale gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), is foto’s van die verdagtes en die voertuig waarmee hulle van die toneel af gery het, deur middel van kringtelevisiekameras by Lephalale Square opgespoor. Dié mans het ʼn dame by die FNB OTM probeer “help” en in die proses haar bankkaart bekom. Sy het onmiddellik die noodnommer soos verskaf op die OTM geskakel, maar Eloff sê daar was reeds R5 000 uit haar rekening onttrek voordat sy die kaart kon stop. “Daar is eers R3 000 en net daarna nog R2 000 uit haar rekening onttrek.

Eloff sê nadat hulle die registrasienommer van die voertuig waarmee die verdagtes weggekom het opgevolg het, is daar vasgestel dat dit ʼn huurmotor is. Die motorverhuringsmaatskappy is geskakel en hulle het die opsporingsisteem op die voertuig geaktiveer. Dit was dus moontlik om die voertuig te “volg” vanaf Mooinooi tot in Rustenburg en drie verdagtes is deur die polisie in Rustenburg ingewag.

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale Kluster woordvoerder, kon hulle egter net daarin slaag om een van die verdagtes te arresteer. Die ander twee het ontsnap.

Eloff sê dit is te danke aan goeie samewerking tussen Lephalale GPF en verskeie groepe van buite dat die verdagte en die voertuig opgespoor kon word. “Onmiddellike akkurate kommunikasie en samewerking lewer goeie resultate,” sê hy.

Die verdagte is in Rustenburg gearresteer en speurders het opdrag gekry om hom te gaan haal en terug te neem Lephalale toe waarna stappe geneem sou word om hom aan te kla.

“Enige persone wat inligting het of ʼn bydrae tot vervolging kan lewer, of self deurgeloop of verliese gely het deur dié ‘scamsters’, word versoek om ʼn saak te open by Lephalale Polisie en direk met die Stasiebevelvoerder te praat. Moet onder geen omstandighede toelaat dat iemand naby aan jou staan of jou probeer ‘help’ by enige OTM-masjien nie,” sê Eloff.

Teen druktyd was die ander twee verdagtes steeds op vrye voet, maar die polisie is wel in besit van kringtelevisie-materiaal waarop hulle geïdentifiseer kan word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.