OTM-rowers aktief

Leoni Kruger
LEPHALALE — Sybil Nieuwoudt was verlede Woensdag, 27 Januarie, net nog ‘n slagoffer wat deurgeloop het onder OTM-rowers.
Volgens Sybil is sy Woensdag omstreeks 11:50 na die Sparsentrum in Onverwacht om haar huishulp se lone te trek by FNB se outomatiese tellermasjien (OTM). Sy sê met haar aankoms daar was daar twee persone besig – een by die FNB-OTM en die ander een by Standard Bank se OTM. Sy het agter die man by die FNB-OTM gestaan en wag. “Toe hy klaar is het hy na die ander man by die Standard Bank-OTM gestap en hulle het met mekaar gepraat. Daar was niks buitengewoon aan die situasie nie” sê sy.
Toe Sybil egter haar bankkaart in die gleuf wou plaas, het die masjien dit weer uitgespoeg. Sy het weer probeer en volgens haar het die mans toe nader gestaan, en vir haar gesê hulle wil haar help. Die een wat voorheen by die FNB-OTM was het sy hand uitgesteek en vir haar gesê sy moet haar kaart effens oplig aangesien daar probleme met die OTM is. Daarna het sy hom blykbaar weggestamp en gesê sy het nie hulp nodig nie. Sy sê die ander man het baie naby agter haar gestaan en sy was toe reeds baie benoud, want sy het vermoed hulle beplan iets. Sy het gedink haar bankkaart is steeds in die masjien en hulle het weggestap nadat hulle vir haar gesê het die masjien is nou reg, sy kan maar geld trek. Sy het haar pin ingesleutel en toe gee die masjien vir haar ‘n boodskap dat die aantal nommers te min is vir ‘n selfoonnommer. Sy het toe besef dat haar kaart nie meer in die OTM is nie en dat sy sopas haar pinnommer ingesleutel het. Maar hulle was nie meer daar nie, so sy het gedink dit is onmoontlik dat hulle die pin kon sien. Sy sê sy het nog nie eens behoorlik besef wat aangaan nie, toe kry sy ‘n sms dat daar R3 000 uit haar rekening onttrek is.
Sy het onmiddellik na die FNB-tak by Lephalale Mall gery om haar kaart te stop, waar hulle haar gehelp het. Die rowers het toe reeds probeer om haar daglimiet op haar rekening te verhoog, want hulle kon uiteraard sien dat daar nog geld beskikbaar is. Hulle kon gelukkig nie daarin slaag nie en het dieselfde dag telkens probeer om die kaart by verskeie luukse winkels te gebruik.
Sybil sê hierdie voorval was vir haar ‘n groot les, want mens dink altyd dit sal nie met jou gebeur nie. “Ons hoor daagliks van sulke voorvalle en dat mens paraat moet wees, maar as dit met jou gebeur, dan weet mens nie wat om te doen nie”.
Sybil sê ook daar was geen wagte naby die tellermasjiene nie en volgens die sentrumbestuurder is daar ook nie kameras in daardie area nie.
Intussen was daar die afgelope naweek ‘n plasing op die Facebookblad van “Nelspruit Concerned Citizens” wat aandui dat daar ‘n klein toestel gevind is by die OTM by Riverside Mall in Nelspruit. Na ‘n deeglike ondersoek is ‘n baie klein kamera gevind wat op die OTM gemonteer is wat vermoedelik foto’s neem wanneer jy jou pinnommer insleutel. Dit kan moontlik wees wat met Sybil gebeur het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.