Pa en Seun presteer steeds

LEPHALALE — Hennie en Werdie van Staden, bekroonde boogskuts en lede van die Magnum Archery boogskietklub, het die afgelope naweek, 4 en 5 Mei, by die Magnum Archery te Pretoria aan been twee van die ABO (African Bowhunter Boogskietorganisasie) deelgeneem.

Hennie van Staden

Dié kompetisie bestaan uit drie bene wat deur die jaar geskiet word. Tydens die eerste been het Werdie goud behaal en Hennie silwer.  

Werdie van Staden

Die afgelope naweek het meer as 300 skuts van regoor die land aan die kompetisie deelgeneem en Pa en Seun het weer eens uitstekend presteer. Werdie het op die eerste dag ʼn wentelling van 204 uit 220 geskiet, die tweede dag ʼn wentelling van 206 uit 220 en hy stel terselfdertyd oor die twee dae saam ʼn nuwe SA-rekord in die Hunters-afdeling op.  

Hennie skiet in die MSR (Male Senior Release-afdeling) op die eerste dag ʼn wentelling van 203 uit 220 en die tweede dag ʼn wentelling van 195 uit 220 wat hom die algehele wenner in dié afdeling maak.

Hulle het in spanverband (vier in ʼn span) ook met die louere weggestap. Die span het bestaan uit Hennie, Werdie, Noel van Pretoria en Nelis Troskie van Pietersburg, beter bekend as Nollie Troskie, ʼn ou Ellisrasser.

Dis duidelik dat die Bosveld se skuts uitblink in boogskiet.

Die volgende kompetisie waaraan Hennie en Werdie gaan deelneem is in Juniemaand te Marblehall.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.