Pad na Interhoër geplavei

LEPHALALE — Die atlete van Hoërskool Ellisras het teen groot kompetisie te staan gekom tydens ’n onlangse vriendskaplike atletiekbyeenkoms, die Janis Robberts-byeenkoms. Die byeenkoms is deur Hoërskool Pietersburg aangebied.

 Atlete van Hoërskole Ben Vorster, Ben Viljoen, Merensky, Tom Naude, PHS en Frans du Toit het hulle beste gegee en EHS se atlete het geen tree teruggestaan nie.

 Tshepang Dankuru, seuns o. 15, verbeter die hoogspringrekord van die byeenkoms na 1,82 m en verower hiermee die Junior Victor Ludorum-trofee.

 Ander uitblinkers was Bianca Nel wat die dogters o. 19 200 m-rekord verbeter het na 25,03 s. Die atlete wen gesamentlik 30 goue, 15 silwer en 16 brons medaljes.

 EHS se skoolhoof, mnr Adriaan Joubert, is besonder trots op hierdie leerders. Nie net die atlete nie, maar ook die Interhoër-sangers en –dirigente oefen baie hard om die naam van hulle skool hoog te hou.

 Die Interhoërbyeenkoms word Saterdag 29 Februarie te Hoërskool Nylstroom aangebied.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.