Padnagmerrie: Inwoners werk saam

Die Witkoppad vertel sy eie verhaal en die meeste Ellisrassers het al met hom kennis gemaak. Dit is wel vir die bewoners van die pad en die Baviaanshoekplotbewoners ʼn heel ander storie.

Die Witkopplase en Baviaanshoekplotte-pad het in 2014 groot herstelwerk ondergaan nadat die vloed daardie jaar groot skade aangerig het. Die rivier was in vloed en die fonteine het uit die berge gestroom en omtrent alles het verspoel. Danksy verskeie donasies en hulp van die inwoners van Lephalale en natuurlik die De Hoek gemeenskap, is die pad baie mooi herstel. Die bewoners het gereeld gehelp om die pad in stand te hou, maar nȧ die hewige reën die laaste paar weke (waarvoor almal natuurlik baie dankbaar is) het die pad weer verspoel.

Die meeste hoewebewoners was vir ʼn ruk afgesny deur verspoelde paaie want Poer Se Loop het ʼn groot deel van die Witkoppad oorstroom met gepaardgaande skade.

Verskeie voertuie het ook vasgeval as gevolg van die fonteine wat die pad ʼn pappery gemaak het. Toe begin die groot werk met grond aan- en inry, slote opvul om die pad weer reg te kry.

Dank is uitgespreek teenoor elke persoon, buitestaander en gemeenskapslid wat gehelp het met die herstel van die pad. Donasies is ontvang en voertuie, trekkers en toerusting is beskikbaar gestel.

Spesiale dank is ook uitgespreek teenoor EHL Engineering vir ʼn groot kontantdonasie vir diesel aan die De Hoek-gemeenskap.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.