Paleis 🢂 huis 🢂 pondok — 20%-40% daling in eiendomspryse

LEPHALALE — Met die Medupi Kragstasie wat vinnig einde se kant toe staan word die realiteit van ʼn krimpende dorp groter. Van die 18 000 werknemers wat by Medupi gewerk het gaan daar tussen 600 en 800 werkers nodig wees met voltooiing van die projek. Verskeie besighede moes reeds hul deure sluit. Gastehuise staan leeg. Jou huisie langs die gholfbaan is nie meer soveel miljoene werd nie. Maar wat is die vooruitsigte?

Verskeie huise staan tans leeg en verwaarloos

Beloftes en vooruitsigte van nog ʼn kragstasie en myn gee mense hoop, maar kenners meen Lephalale gaan nie gou weer uit sy nate bars of kan spog met die hoogste eiendomspryse in die land nie.

Mogol Pos het gaan kers opsteek by van die eiendomsmaatskappye in Lephalale om vas te stel of hulle die veranderinge in eiendomspryse voel en hoe hulle die krimpende ekonomie ervaar.
Volgens Just Property was die pryse die hoogste in die tydperk 2008-2013, @Sold Eiendomme sê huurpryse was in 2015 die hoogste en die verkooppryse was die hoogste gedurende 2014-2015. Remax sê die pryse was die hoogste in 2016. Helium Properties sê die verkooppryse was die hoogste in 2008 en die verhurings van 2008-2016.

Bogenoemde maatskappye stem saam dat die daling in pryse tot op hede rondom 20% – 40% is.

Volgens Arona Rossouw van @Sold Eiendomme sal die pryse nie weer so styg soos in die verlede nie, aangesien die vraag na eiendomme nie weer so hoog gaan wees nie. Daar is tans ses huise en 30 woonstelle op hulle boeke wat leegstaan.

Kate Grieshaber van Just Property meen die pryse gaan daal tot waar dit vergelyk sal kan word met eiendomspryse in soortgelyke dorpe as Lephalale soos Witbank, Vereeniging en Middelburg. “Lephalale gaan nie meer ʼn konstruksiedorp wees nie, maar ʼn myndorp. Mense wat in Lephalale eiendom gaan huur en koop sal moet kwalifiseer met salarisse wat deur die myne en Eskom betaal word, dit sal nie meer deur aanvraag bepaal word wat deur die inhuur van maatskappye geskep is nie,” sê Kate.

Daar is tans verskeie huise, baie woonstelle, plase en gastehuise in die mark. Sowat 10% van alle soorte eiendomme staan leeg en volgens Arona is die vrees dat die eiendomme wat leeg staan gestroop kan word realiteit. “Daar is toenemend gevalle waar onder andere koperpype en deure uit eiendomme gesteel word wat leegstaan,” sê sy.

Hierdie daling in pryse en aanvraag sal uiteraard ook ʼn invloed hê op die eiendomsagentskappe en hulle werkers. “Net soos met ander besighede gaan uitgawes besnoei moet word om te kan voortbestaan. Werknemers wat nie produktief bydra tot die generering van inkomste en die daaglikse voorbestaan van die besigheid nie sal nie langer ʼn pos kan beklee nie”, sê Arona.

Kate sê dit gaan afhang van hoe die besigheid bestuur word, maar almal sal nie noodwendig al hulle werknemers kan behou nie. “Ek dink ook dat salarisse gaan daal aangaande meer mense werkloos raak in die dorp,” sê sy.

Raad vir voornemende kopers?

“As jy self wil bly, koop,” sê Melanie Malan van Helium.

“Koop in ʼn prysklas (R500 000 – R1 miljoen) waarin ander mense ook soek indien jy nodig sou hê om die eiendom weer te verkoop. Indien jy wil verkoop sal dit moontlik nodig wees om ʼn laer aanbod te aanvaar as wat jy aanvanklik wou gehad het. Dit is ʼn kopersmark, mits jy self ʼn huis soek om in te bly,” sê Kate.

Volgens Renett La Grange van Remax gaan die mark nou stilstaan en moontlik verder val, maar daar sal weer ʼn styging in kopers en huurders in die toekoms wees.

Die algemene raad is om die eiendom van die begin af reg te prys, dan sal dit verkoop.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.