Pas steeds jou renosters op

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die opheffing van die plaaslike verbod op die handel in renosterhoring op 26 November verlede jaar is wyd in die media bespreek en uiteenlopende reaksies is ontvang.
‘n Suid-Afrikaanse regter het die plaaslike verbod op die verkoop van renosterhoring opgehef. Dit is egter voorafgegaan deur die hersiening en tersydestelling van die moratorium deur regter Francis Legodi. In reaksie hierop het privaat renostereienaar en grootste teler in die land, John Hume, en wildbewaarder Johan Kruger kapsie gemaak en gesê dit is hulle grondwetlike reg om hulle renosters se horings te verkoop. Hulle het dit beskryf as ‘n hernubare hulpbron. Hume het dit duidelik gemaak dat hy maandeliks sowat R3 miljoen spandeer op renosterbeveiliging en hy het gesê as die verbod nie gelig word nie, sal hy ontslae moet raak van sowat 1 200 van sy renosters.
Gereelde opdaterings van stropingstatistieke is stopgesit deur die departement van omgewingsake, minister Edna Molewa, daarom is dit nie moontlik om eksakte statistieke te verskaf nie, maar na beraming is daar verlede jaar sowat 1 500 renosters doodgemaak om hulle horings te kry.
Volgens adjudant-offisier Jurg van Heerden, ‘n lid van die Limpopo Renostertaakspan, het renosterstropery definitief die laaste maand of twee in die Lephalale-omgewing afgeneem teenoor verlede jaar dieselfde tyd. “Daar was verlede jaar dieselfde tyd meer as dubbel die hoeveelheid renosters gestroop in ons area” sê hy.
Hy moedig die publiek aan om aan te hou om ‘n positiewe gesindheid te hê rondom die feit dat alle renosters steeds goed opgepas moet word. Die stryd is waarskynlik nog lank nie oor nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.