Pastoor Jan en sy Tacha groet

LEPHALALE — Hulle het op 5 Januarie 2016 in die bediening in Lephalale begin en na drie wonderlike jare in die Bosveld is dit nou tyd om te groet. Pastoor Jan Bezuidenhout en Natacha van die PPK Lighuis in Onverwacht is beroep na Mosselbaai en hy lewer reeds Sondag 7 Oktober sy intreepreek.

Pastoor Jan en Natacha Bezuidenhout is op pad Mosselbaai toe

Pastoor Jan was vir die afgelope drie jaar assistant-leraar by die PPK Lighuis, maar hy het intussen verder studeer en is as vol leraar beroep.

Hy vertel dat die skuif na Mosselbaai nie sou realiseer as hy opgegee het ná sy eerste probeerslag nie. Sy voorganger, pastoor Johan van Eeden, is in Julie vanjaar voor sy huis in De Bakke in Mosselbaai vermoedelik deur ‘n inbreker doodgeskiet. “Die gemeente en die gemeenskap was nog te geskok na Van Eeden se dood en hulle het blykbaar nie eers na my aansoek gekyk nie,” sê hy. Hulle het besluit om in Lephalale te bly en dat hy hier sou voortgaan, maar toe sy “papiere” by Hoofkantoor deurmekaar raak, toe doen hy weer navraag oor die pos by Mosselbaai. Hy is uitgenooi om daar te gaan preek en die res is geskiedenis. Hy en sy Tacha is op pad.

Pastoor Jan en Natacha sê dat hulle van die eerste dag af welkom gevoel het in Lephalale en dat almal hulle dadelik aanvaar het net soos hulle is. “Ons het nooit nodig gehad om voor te gee nie, ons kon net onsself wees. Ons was lanklaas in ’n gemeente waar jy vandat jy daar instap totdat jy daar uitstap soos familie voel. Ons het by hierdie gemeente geleer wat dit is om om te gee en lief te wees,” sê Natacha.

Pastoor Jan sê dat 2 Korintiërs 3 vers 1-3 vir hulle in dié tyd besondere betekenis gekry het. “Klink dit of ek nou besig is om oor myself te spog? Nee! Ek probeer julle glad nie beïndruk nie. Julle self is immers my getuigskrif. Ek het nie die een of ander getuigskrif van julle kant af nodig om my goeie kwaliteite te besing soos party ander mense doen nie. Julle self is die bewys dat die Here my geroep het om die goeie nuus uit te dra …”

“Ek glo in die tyd wat ons hier was het ons van baie mense getuigskrifte gemaak, maar die Here het dit aan ons duidelik gemaak dat ons Sy woord ook in Mosselbaai moet gaan uitdra,” sê hy.

“Dankie dat ons deel kon wees van ’n gemeente wat kosbaar is en wat die Here dien met alles in hulle. Alle eer aan God, ons staan vir Hom in diens,” sê pastoor Jan.

Die Bezuidenhouts se boodskap vir die inwoners van Lephalale is saamgevat in Psalm 73:26: “Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd”.

Pastoor Jan se uittreepreek word Sondag 30 September vanaf 10:00 by die PPK Lighuis in Onverwacht gelewer.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.