Pieterse-moordsaak — uitspraak binnekort verwag

LEPHALALE — Wyle Piet (Vink) Pieterse wat op 5 Februarie 2017 op die plaas Sumadi in die Afguns-omgewing vermoor is, se saak kom tans, na meer as drie jaar se uitstel, in die Hooggeregshof in Polokwane voor.

Vier verdagtes staan tereg vir die moord. Die polisie het teen druktyd gesoek na Phillip Modime en Tshepo Rasodi, maar Phineas Malongoana en Thapelo Motsamai verskyn dié week op verskeie aanklagte waaronder moord. Die vyfde verdagte, Joel Mashaba, gaan na bewering vir die staat getuig.

Malongoane het ook voorheen uit aanhouding ontsnap.

Volgens die polisie het hulle sowat 35 getuies in dié saak, maar nie almal van hulle gaan in die hof getuig nie. Dit hof het aangedui dat, indien die saak nie hierdie week afgehandel word nie, dit waarskynlik volgende week voortgesit gaan word.

Mogol Pos het reeds verskeie kere verneem dat Pieterse se familie geweldig getraumatiseer is omdat die saak so sloer en daar nog nie uitspraak gelewer is nie.

Enigiemand met enige inligting oor Modime en Rasodi word versoek om die Stop Misdaadnommer 08600 10111 te skakel.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.