Pippie is perfek!

LEPHALALE — Haar regte naam is Isabella Kruger, maar Pippie sal sy bly. Dié meisie met die blou oë is wêreldwyd geliefd.

Voltallig. Die Kruger-gesin in hulle huis in Lephalale

As hulle enigiets kon verander sou hulle absoluut niks wou verander aan wat die laaste sewe jaar in hulle lewe gebeur het nie. Pippie is perfek. Net soos sy is, sê haar trotse ouers, Anice en Erwin.

Dit is sewe jaar sedert die ongeluk op Oujaarsaand, 31 Desember 2011, toe hulle met haar deurgejaag het na die Garden City Hospitaal in Johannesburg. Sy het derdegraadse brandwonde regoor haar lyf opgedoen toe ʼn vuuraansteekjel in haar pa se hande ontplof het. ʼn Fratsongeluk.

Ma Anice Kruger is bekend daarvoor dat sy nie maklik opgee nie en sy het amper meer gedoen as wat menslik moontlik was om haar kind se lewe te red.

Pippie het vyf beroertes en vyf hartaanvalle oorleef …

Mogol Pos het by hulle gaan inloer in hulle huis net buite Lephalale om te kyk hoe dit deesdae met Pippie gaan.

Pippie het in Junie vanjaar haar negende verjaarsdag gevier. Sy lê uitgestrek op die mat en dis duidelik sy is versot op haar boetie, Arno (7). Sy is bietjie sku totdat sy sien daar word foto’s geneem. Toe is sy die ene oë en glimlagte.

Sy was altesaam 185 dae in die hospitaal, waarna hulle steeds in Johannesburg moes aanbly vir rehabilitasie. Anice en Pippie het op 14 November 2014 uiteindelik van die stad af teruggetrek na hulle huis in Lephalale.

Sedertdien is hulle een week in Lephalale en een week in Johannesburg waar sy intensiewe behandeling ontvang om onder andere die bloedtoevoer na haar brein te verbeter.

Tuis help Anice haar self met allerlei oefeninge om haar spiere te versterk. Sy word ook deur ʼn chiropraktisyn behandel.

Die groot deurbraak in haar ontwikkeling en vordering het egter gekom nadat Anice in Februarie 2017 die Family Hope Centre besoek het en dáár gehoor het van die keto-dieet wat wondere doen in ondere andere breinontwikkeling. Sy en Pippie is in Junie 2017 Amerika toe om die Parent Training Conference by te woon. Dié konferensie word aangebied deur die Family Hope Centre wat hulle daarop toespits om die ouers van kinders met spesiale behoeftes te bemagtig sodat die kind se situasie nie as ʼn versameling van simptome beskou word nie, maar die “hele kind” word in ag geneem.

Vandat Pippie die keto-dieet volg, praat sy beter, slaap sy beter en eet sy baie en gesond. “Sy eet my uit die huis uit,” sê Anice. Sy praat reeds sinne en lag lekker as mens met haar ʼn grappie maak. Sy is mal oor perde en hulle nuwe kat.

Haar bloed het onlangs vir die eerste keer normaal getoets. Daar was deur hierdie hele tyd nog spore in haar bloed van die baie narkose wat sy gehad het.

Anice glo onwrikbaar daarin dat haar kind nie breinskade het nie. Sy vertel dat daar vasgestel is dat haar ontwikkeling gekniehalter is as gevolg van die geweldige trauma waardeur sy is.

“Ek is wel oor een ding spyt en dit is dat ons nooit regtig met haar oor die ongeluk en alles wat daarna gebeur het, gepraat het nie. Ons het gedink hoe minder ons daaroor praat hoe beter sal dit vir haar wees. Ek het nou besef die trauma was vir haar so groot en sy verstaan nie waarom sy so seer gehad het en wat gebeur het nie. Ek wil begin om vir haar haar boek, Pippie, voor te lees. (Die boek was op 23 Augustus 2013 op die rakke en Anice het self nog nooit die boek gelees nie).

Erwin vertel dat sy klein Pips nét saam met hom eet as hulle by die huis is en dat sy gek is oor vleis en biltong, neute en allerhande gesonde peuselhappies.

“Ek wil absoluut niks verander wat in die laaste sewe jaar gebeur het nie – alles werk uit presies net soos dit moet,” sê Erwin met die groetslag.

Terugkykend is dit onmoontlik om eers min of meer te begryp waardeur hierdie gesin is.

Tog is hulle vandag héél, beter, wyser en diep dankbaar vir wat hulle wél het.

Pippiearmbande teen R30 elk is nou te koop by Arms of Mercy, ʼn nie-winsgewende maatskappy. Skakel Karin Harmse by 076 463 0821 om joune te bestel.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.