Pippie kry nuwe kans

Pippie was Vrydag 9 Junie
8 jaar oud

Leoni Kruger
LEPHALALE — Dit het alles begin met ‘n joernalis van ‘n aanlynkoerant wat Anice Kruger aanhoudend gevra het vir ‘n opvolgartikel oor Pippie (8) se vordering. “Ek het later ingestem vir ‘n onderhoud en die berig is geplaas” sê Anice.
“Na die berig geplaas is, het ‘n vrou my gebel en gesê sy weet van ‘n plek wat ons kan help. Die Family Hope Centre in die Amerikaanse staat Pennsilvanië” vertel Anice.
Anice sê sy het aanvanklik nie veel van die oproep gedink nie, maar die vrou het nie opgehou totdat sy ingestem het om meer oor die sentrum uit te vind nie. Sy het die oproep gemaak en gehoor dat die Family Hope Centre in Februarie vanjaar vir die eerste keer Suid-Afrika toe kom.
By die seminaar, wat in Sandton gehou is, het Anice geleer hoe sy self onder andere as fisioterapeut, arbeidsterapeut en dieetkundige kan optree. “Hulle bied ook ‘n tweedag-evaluasie aan waar ‘n kind vir die volle twee dae evalueer word en dan word daar ‘n program spesifiek vir jou kind uitgewerk” sê Anice.
Daar was ongelukkig nie meer plek toe die sentrum Februarie in Suid-Afrika was nie, want 74 ouers het die seminaar bygewoon en daar is net plek vir 22 evaluasies. Sy het daar besluit dat sy en Pippie in Junie vanjaar na Pennsilvanië (Norris Town) toe moet gaan vir ‘n evaluasie.
Anice het intussen solank begin met die regte eetprogram vir Pippie – ‘n ketogeniese dieet wat alle koolhidrate, suiwel en suiker uitsny en ‘n hoë persentasie gesonde vet insluit. Sy sê die algehele verskil in Pippie se welstand is ongelooflik vandat hulle hierdie dieet volg.
Volgens Anice het Pippie se spraak en konsentrasie aansienlik verbeter, sy slaap in haar eie kamer en word nie meer wakker deur die nag nie. Sy praat sinne van vyf en ses woorde.
Anice verduidelik die hele program word gebaseer op die kruip-aksie, want dit stimuleer die Babinski-refleks in die tone (veral die groottoon) wat weer die brein stimuleer. Dit werk met al vyf sintuie en bevorder neuroplastisiteit. “Hierdie sentrum glo dat die brein wel kan genees deur nuwe “paaie” te skep” sê sy.
Die sentrum het ‘n wetenskaplike benadering wat ouers in staat stel om self hul kinders se ontwikkeling te verbeter deur die regte metodes te gebruik.
Anice en Pippie vlieg Donderdag 15 Junie na Pennsilvanië waar hulle in ‘n hotel gaan bly sowat 800 m van die sentrum af. Hierna gaan hulle twee huis toe kom met Pippie se eie program wat net vir haar saamgestel is. “Ek is so opgewonde ek kan skaars slaap. Ons het weer nuwe hoop” juig Anice.
Pippie het op Oujaarsaand 2011 derdegraadse brandwonde oor 80% van haar lyf opgedoen nadat ‘n vuuraansteekjel in haar pa se hande ontplof het. Haar storie het die wêreld aangegryp en sy het internasionale nuus gemaak toe haar eie gekloonde vel, wat in ‘n laboratorium in Boston gekweek is, in Junie 2012 op haar oorgeplant is. Sy het egter breinskade opgedoen na vyf hartstilstande en beroertes. Die Family Hope Centre bring inderdaad nuwe hoop.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.