Plaasaanval – een geskiet

Leoni Kruger
Faan Bothma, ‘n 73-jarige boer van die Susandale-omgewing naby Villa Nora en sy 58-jarige vrou is die nag van Woensdag 26 April deur vier gewapende mans in hulle huis oorval nadat hulle by die huis ingebreek het.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale SAPS woordvoerder, het die verdagtes ‘n vuurwapen op hulle gerig waarna hulle bene en arms vasgebind is en hul wapens gesteel is.
Volgens die ondersoekbeampte in die saak het twee van die verdagtes heeltyd by Bothma en sy vrou gebly, maar hulle het geloop om die ander te gaan help om die gesteelde goed in ‘n bakkie te laai. Intussen het Bothma daarin geslaag om sy arms los te maak. Hy het gehoor hoe die twee weer in die huis loop na hul kamer toe waarna hulle twee vuurwapens op Bothma en sy vrou gerig het nadat hulle in die deur verskyn het. Bothma het ‘n vuurwapen wat die verdagtes uit die kluis gehaal en op die bed vergeet het gevat en twee skote na hulle geskiet.
Die verdagtes het die sak wat hulle gesteel het sowel as die wapens neergegooi voordat hulle in die bosse verdwyn het. Al die gesteelde goedere is teruggekry.
Die polisie was vinnig op die toneel en hulle het die verdagtes se spore gevolg. Een van die verdagtes (18 jaar oud) het ‘n paar meter van die toneel af gelê. Hy was noodlottig gewond.
Volgens Sakkie Louwrens, ‘n lid van die Heritage Protection Group (HPG) ‘n privaat misdaadondersoekspan, is daar sedertdien nog vyf verdagtes gearresteer vir ondervraging, maar teen druktyd kon nie een van hulle positief met die voorval verbind word nie. Hulle was wel in aanhouding omdat hulle Zimbabwiese burgers en onwettig in die land is. Daar word ook vermoed dat hulle familie van die 18-jarige oorledene is.
Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.