Plaasbesetting en skut vir diere

LEPHALALE — Die saak wat aan die begin van Maart in die Vaalwateromgewing voorgekom het waar ʼn boer iemand anders se grond onwettig betree en sy beeste in dié veld ingejaag het, is Woensdag 20 Maart by die Landelike Veiligheidsforum se vergadering by Mogolklub bespreek.

Dié beeste is ʼn tyd gelede deur ʼn boer op sy plaas opgemerk en hy het die bure dadelik daaroor ingelig en versoek dat die eienaar van die beeste hulle kom haal voordat hy hulle sou skut

Connie Gouws, lid van AfriForum, wat deel was van die groep wat ondersteuning gebied het toe die beeste geskut is, het grondeienaars versoek om altyd bewus te wees wat op hulle plase aangaan en om dadelik werk daarvan te maak indien ʼn heining of slot geknip is. “Wees ook op die uitkyk vir enige vreemde vee op jou plaas, dit mag dalk deel wees van veediefstal,” het hy gesê.

Hy het ook gesê dat die plaas geoormerk was vir grondgrype en dat die “wettige” dokumente wat aangebied was, vervals was.

Hy het verduidelik dat daar metodes is wat gevolg moet word indien ʼn soortgelyke voorval op jou grond plaasvind.

“Die eerste ding wat jy moet doen is om vas te stel hoe die diere op jou plaas gekom het – was dit geforseerde toegang?

“Kry dan al jou bure bymekaar sodat hulle bewus kan wees van die voorval en ondersoek alle hekke en drade,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat nie alle DBV’s oor die fasiliteite beskik om so ʼn groot hoeveelheid (bykans 150) diere te skut nie.

Thys Eloff, voorsitter van die Lephalale Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het gesê: “ons vorm hier ʼn nuwe entiteit en ons is besig om die pad vorentoe te struktureer met die vestiging van STIC (Stock Theft Information Centre)* wat binne ʼn wettige raamwerk gevorm is en hulle kan boere inlig oor watter stappe om te neem. Hy het ook gesê die veediefstaleenheid moet ook van die begin af hierby betrokke wees, want in bogenoemde geval was daar wel ʼn veediefstalsaak geopen en van die beeste wat onwettig in die veld gejaag was, was deur die eienaar uitgeken.

Brigadier John Masia, Lephalale Klusterbevelvoerder, het gesê sulke voorvalle moet by die naaste polisiestasie gerapporteer word en hulle (die polisie) sal met die inwoners van nedersettings naby aan die plaas praat. Indien daar wel ʼn bedoeling was om ʼn plaas oor te neem sal dit in die gesprekke met die bure uitkom.

Hy het ook gesê die grondeienaar moet eers uitvind wat die rede is waarom die vee op die plaas is en nie sommer net gevolgtrekkings maak nie, maar dat die polisie in alle gevalle dadelik in kennis gestel moet word.

Daar is melding gemaak van ʼn voorval waar vreemde beeste op ʼn plaas in die Overyssel-omgewing gekry is en die eienaar van die plaas het boodskappe uitgestuur dat die diere binne 24 uur geskut sal word indien die eienaar nie na vore kom nie. Die voorval is by Villa Nora Polisie gerapporteer en foto’s van die beeste is verskaf.

Brigadier Masia het gesê indien daar vreemde diere op jou grond opgemerk word moet die bure en naaste polisiestasie daaroor ingelig word en die polisie sal die veediefstaleenheid kontak.

Brig Masia het gesê in soortgelyke gevalle is dit altyd goed om ʼn getuie by jou te hê.

Douw Pelser, voorsitter van die provinsiale veediefstal en –voorkomingsforum, het gesê daar is probleme met behoorlike skuts naby Lephalale en die tradisionele leiers is nie ten gunste van die nuwe skutwet nie, want hulle sê hulle regte as leiers word van hulle af weggeneem.

Die naaste skut aan Vaalwater is in Mokopane en die naaste skut aan Lephalale is in Dendron, want die een in Shongoane is nie funksioneel nie.

Hy het gesê die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het afgevaardigdes na President Cyril Ramaphosa gestuur om te pleit dat die skutwet geteken word. “Sodra daar kan aansoek gedoen word vir ʼn skut in Lephalale kan daar werk van gemaak word,” het Pelser gesê.

Gouws het gevra wie gaan die kostes dra van die diere wat na die skut vervoer moet word?

Pelser het gesê daar is inligting op die Regering se webtuiste oor hoe om sulke situasies te hanteer.
*Sien berig oor STIC elders in dié uitgawe.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.