Plaasmoord – 3 vas

Pieter Pieterse is wreed aangerand en het beswyk aan sy beserings

Leoni Kruger
AFGUNS — Die 57-jarige Pieter Hendrik Pieterse (beter bekend as Piet Vink) is in die vroeë oggendure van Maandag 6 Februarie waarskynlik in sy slaap oorval en wreed aangeval in sy huurhuis op die plaas Sumari in die Afguns-omgewing. Volgens die polisie is hy met ‘n moersleutel oor die kop geslaan en sy een oor is afgesny. Hy het nie klere aangehad nie.
Die vyf verdagtes het toegang tot die huis gekry deur die sif voor ‘n venster uit te sny en deur die venster te klim.
Piet het die huis gehuur by Ria Botha, ‘n suster van Susan Kotze wat 5 Januarie 2015 op dieselfde plaas vermoor is. Die huise is naby mekaar.
Volgens Pieter Meintjies, Piet se stiefseun, het hy Maandagoggend opgestaan om te gaan werk en gesien dat hy om 03:12 ‘n oproep van sy pa se foon af gehad het. Hy het dadelik na albei Piet se fone probeer skakel, maar die fone was afgeskakel. Meintjies het Grootegeluk toe gery en toe hy besef Piet het ook nie by die werk opgedaag nie, het hy geweet iets is verkeerd.
“Ek het plaas toe gery en gesien die hek en die huis se deur staan oop. Dit is toé dat dat ek op hom afgekom het” sê Pieter.
Hy was tussen 09:00 en 09:30 op die plaas. Pieter sê hy moes eers ‘n ent ry om ‘n oproep te maak om hulp te ontbied want daar is geen selfoonsein op die plaas nie. (Die polisie vermoed die oproep wat hy om 03:12 van sy pa se foon af gekry het, is per abuis deur een van die verdagtes gemaak).
Volgens George du Toit, voorsitter van die Afguns-gemeenskap, het hulle die boodskap van die aanval op die noodradio’s gekry en lede van die Afgunsgemeenskap het na die toneel gejaag. Hulle het die boodskap gekry dat Piet nog leef. Lede van die gemeenskap het dadelik die spore begin volg.
‘n Ambulans het solank van die dorp af gery en André Wagener, Piet se skoonseun en Susan Pieterse wat voorheen met Piet getroud was, het van die plaas af gery sodat hulle mekaar halfpad kon ontmoet. Hy is egter deur paramedici in die ambulans op pad hospitaal toe dood verklaar as gevolg van inwendige beserings en bloedverlies.
Twee selfone, ‘n handgemaakte kluis en ‘n .22 geweer is gesteel en die verdagtes is weg met sy wit Isuzu-bakkie met ‘n groen streep langs die kant, registrasienommer BYZ 077 L (2005-model).
Die polisie en lede van die HPG het ‘n grootskaalse soektog aan die gang gesit en die eerste verdagte is Maandag omstreeks 12:00 in Shongoane 1 aangekeer. Die inhoud van die kluis is by hom gevind.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, is die kluis naby Villa Nora in die Palala gekry. Die vorige persoon wat in die huis gewoon het, se paspoorte was nog in die kluis.
Volgens ‘n woordvoerder van die Hertitage Protection Group (HPG), ‘n spesialis ondersoek-eenheid, het dit teen Dinsdag duidelik geword dat die Shongoane-verdagte nie Maandagnag self op die toneel was nie.
HPG, saam met Lephalale speurders, die honde-eenheid en ‘n misdaadondersoekspan het Dinsdag drie verdagtes gearresteer wat positief met die moord verbind word. Daar is ook beslag gelê op die voertuig wat hulle na die plaas vervoer het.
Volgens ‘n lid van HPG het een verdagte weggejaag nadat hulle in Marapong aangekom het, maar hulle het inligting ontvang dat die voertuig by Choppies in die dorp gesien is. Lephalale GPF het gehelp en hy is daar naby gearresteer en aan die polisie oorhandig. Hy het blykbaar voorheen draad gespan in die omgewing. Die ander verdagtes is in Marapong in ‘n huis gearresteer.
Twee van die verdagtes en die Isuzu-bakkie asook die selfone was teen druktyd steeds soek.
Die .22-geweer is teruggevind waar dit in Marapong in die grond begrawe was.
George du Toit bedank die gemeenskap van Afguns vir hulle professionele en vinnige optrede nadat daar Maandag alarm gemaak is.
HPG bedank almal wat gehelp het met die ondersoek en veral die GPF wat op kort kennisgewing hulp verleen het.
Piet Pieterse se begrafnis word Vrydag 10 Februarie om 12:00 vanuit die Hervormde Kerk Ebenhaeser gehou.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.