Plaasnommers

LEPHALALE — Die eienaars van plase in die Lephalale-omgewing word dringend versoek om seker te maak die plaasnommer word by die ingang van die plaas aangedui.

Dit is belangrik dat die onderskeie polisiestasies in die omgewing weet hoeveel plase word deur hulle bedien en wat is die plaasnommers.

Douw Pelser, voorsitter van die Landelike Veiligheidsforum (LVF) het Donderdag 18 Oktober by die LGF-vergadering genoem dat die item oor die noodsaak van plaasnommers nou al jare lank op die agenda is en daar is steeds grondeienaars wat hulle nie steur aan die versoek nie.

Baie van die huidige plase het ander name as die naam waarmee die oorspronklike plaas geregistreer is. Pelser het verder gesê baie plase het dieselfde name en daar is van die plase wat verdeel is. Dit veroorsaak ook verwarring as die nommers nie bekend is nie.

Hulle familie het self ʼn tyd gelede ervaar watter probleme plaasnommers (of die gebrek daaraan) kan veroorsaak toe ʼn ambulans wat na hulle toe moes gaan in die teenoorgestelde rigting gery het.

Daar is 3 500 plase wat in die Lephalale Munisipaliteit se area val en die polisie het nog die oorspronklike plaasnommers, as dit afgehaal word of daar word ʼn nuwe naam of nommer aangebring, dan het die polisie, nooddienste of wie ook al nie ʼn idee waarheen om te gaan nie.

Plase wat nie gemerk is of waar die nommers nie duidelik aangebring word nie, is reeds die afgelope meer as tien jaar ʼn probleem en dit word telkens aangespreek, tog is daar steeds plaaseienaars wat die versoek verontagsaam.

Skakel Douw Pelser by 082 820 5228 indien daar enige onduidelikheid is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.