
Leoni Kruger
LEPHALALE — Lephalale SAPD, in samewerking met lede van die Heritage Protection Group (HPG), ‘n spesialis-misdaadbestrydingsgroep, het Saterdag 20 Mei rondom 19:00 twee verdagtes in Marapong gearresteer wat positief verbind word met die moord op Poem Lamprecht.
Takalani Goodman Mathosa het Dinsdag in die Landdroshof in Lephalale verskyn op ‘n aanklag van moord en die saak is uitgestel.
Die tweede verdagte is aanvanklik gearresteer as moontlike betrokkene by die Lamprecht-saak en daar is ook beslag gelê op dwelms wat hy in sy besit gehad het.
Volgens Sakkie Louwrens van HPG het Mathosa sekere uitwysings gemaak en aangedui dat dié verdagte saam met hom was die aand van die aanval en hy kan met sekerheid sê dat dié verdagte ook positief verbind word met die saak.
Die 89-jarige Poem Lamprecht het Saterdag 29 Oktober 2016 in sy plaashuis op die plaas Fancy gesterf nadat hy en sy vrou, Kotie, in hulle huis aangeval is.