Positief vorentoe vir Ellisras VLU

Ria Strydom, voorsitter van Ellisras VLU, glo aan ‘n positiewe ingesteldheid
Ria Strydom, voorsitter van Ellisras VLU, glo aan ‘n positiewe ingesteldheid

LEPHALALE — Ellisras VLU se voorsitter, Ria Strydom, het groot planne vir 2016. Haar persoonlike leuse vir die jaar is “positiewe denke”.
Volgens haar is ‘positief’ en ‘negatief’ rigtingwysers. “Ons maak die keuse in watter rigting ons ons denke stuur. Met soveel storms in die hedendaagse lewe benodig vroue ‘n rustige hawe om by anker te gooi en te herlaai voor hul die reis verder aandurf” sê sy. Ellisras VLU wil, met Ria se hulp, hierdie rustige hawe vir vroue wees wat hul op positiewe paaie deur die storms van 2016 stuur.
Positiewe mense werk lekker saam en Ellisras VLU streef met hul positiewe ingesteldheid om ‘n reuse-sukses te maak van die VLU Noord se jaartema “Werk saam vir ‘n beter toekoms”. Hulle wil ‘n positiewe verskil in die gemeenskap sowel as hul omgewing maak en projekte in 2016 identifiseer wat aan hierdie kriteria voldoen.
Die eerste projek wat hulle aanpak is dié van ‘n vrou wat uit haar moeilike omstandighede wil uitstyg. Salomina hekel matjies van plastieksakke vir ‘n inkomste. Ellisras VLU het hul daartoe verbind om haar te voorsien van plastieksakke. Nie net help hul haar om haarself te help nie, maar hulle help ook die omgewing deur herwinning. Herwinning is VLU se Projek van die Jaar.
Enigiemand wat bereid is om plastieksakke te skenk of sommer net wil gaan kyk wat dié klomp besondere vroue maak, skakel Ria Strydom by 084 520 0120.
Ellisras VLU se volgende vergadering is op 25 Februarie en dit is hulle kultuurvergadering. Bettie Pistorius en Lynette Barnard gaan die oggend se bedrywighede lei.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.