“Pre-paid” af — gebruikers “skuld”

Ria Wells
LEPHALALE — “Om een of ander duistere rede het my voorafbetaalde elektrisiteitsrekening my nou in rommelstatus gedompel! Ek skuld glo die munisipaliteit (alias SPASA, alias Bigen Africa) R209 806.74 – ‘n heerlike sms om mee wakker te word. Presies om 06.10. En boonop is die krag afgesny!” Dit is sakevrou Nicolene Gouws van Rip van Winkel se opinie oor die penarie waarin genoemde instansies haar Donderdagoggend 17 Maart laat beland het.
“Lyne na hulle kantore was permanent beset en ek moes na hulle kantore in Onverwacht ry om uit te vind wat aangaan. Wat as ek nie in die dorp was nie? By SPASA aangekom het ‘n klomp ontstelde mense die kantoor volgestaan om navrae te rig oor waarom voorafbetaalde krag afgesny word, ten spyte van die feit dat daar wel voldoende fondse en dus krag in die voorafbetaalde rekening is.”
Haar punt is: Spasa is ‘n groot instansie. Haar besigheid staan. Wanneer gaan die krag aangaan? Terug kragopwekker toe, terug brandstof toe. Koste onbepaald beïnvloed besigheid totaal negatief.
“Dit is onaanvaarbaar en absurd. Hoe gebeur dit dat voorafbetaalde krag goedsmoeds afgesny kan word en dit op ‘n tyd wanneer mense opstaan en gereed moet maak vir werk en soos reeds genoem stap jy by jou besigheid in – kragloos! Mens maak juis gebruik van voorafbetaalde krag met dien verstande dat jý die beheer het oor jou krag, maar ek kom toe met ‘n skok agter dat mens nog steeds beheer word deur die stert wat die hond swaai”’ sê Nicolene.
Mogol Pos het vele oproepe van ontstelde inwoners met dieselfde klagte gekry.
Volgens Louis van der Walt, projekbestuurder by SPASA Lephalale, het die stelselontwikkelaar in Korea vanaf 04:00 opgraderings gedoen en ten spyte van die feit dat daar ‘n drie weke toetsperiode was om seker te maak dat daar geen kragonderbrekings is nie, het dit tog gebeur. “Die krag het tussen 06:00 en 07:00 afgegaan, maar daar was vanaf 06:00 twee persone in die kantore besig om die krag weer aan te skakel en teen 09:00 het almal weer krag gehad. Rondom 10:00 is die fout rondom die “agterstallige gelde” ook reggestel” sê Van der Walt.
Hy het aan Mogol Pos gesê hulle wag vir ‘n verslag vanaf hoofkantoor sodat hulle kan seker maak wat die fout veroorsaak het en hoe hulle kan voorkom dat dit weer gebeur.
“Ons vra bitterlik groot om verskoning vir die ongerief en herinner alle SPASA-gebruikers daaraan dat ons ‘n 24 uur-inbelsentrum het waar enige probleme onmiddellik gerapporteer kan word” sê hy.
Die inbelsentrumnommers is 014 763 5621/3 of 014 763 5401.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.