PSIRA is ʼn frustrasie

LEPHALALE — Hennie van Deventer, voorsitter van die Landelike Veiligheidsforum wat een keer per maand vergader met die Lephalale Polisiekluster, het Woensdag 19 Junie tydens die maandvergadering verduidelik watter frustrasies grondeienaars ervaar ten opsigte van PSIRA (Private Security Industry Regulatory Authority).

Ons ontvang vele terugvoer oor PSIRA wat sloer en ek praat ook uit eie ondervinding,” het Van Deventer gesê.

“Dit is uiters frustrerend – daar is statutêre vereistes van PSIRA wat ons moet volg rakende enigiets wat met sekuriteit te doen het, maar die terugvoer van hulle kant af is traag. Daar word van ons verwag om die wet na te kom deur die PSIRA registrasieproses te volg, maar dit is ʼn nagmerrie. Hulle verskaf geen ondersteuning nie. Hulle is stadig, ongeïnteresseerd en oneffektief.  

Dit is ʼn bekommernis want dit beïnvloed verhoudings,” het Van Deventer gesê.

Van Deventer het voortgegaan en gesê hulle het die aansoeke vir akkreditasie ingedien vir die voorsiening van sekuriteitsdienste binne hulle sekuriteitsdienste en die regsvereistes wat hulle moes deurstuur was ʼn lywige dokument. “Ons aansoek is eenvoudig afgekeur omdat daar volgens PSIRA nie voldoende dokumentasie ingedien is nie. Dit is onmoontlik, ons het baie seker gemaak ons dokumentasie is baie volledig. Ons is nie die enigste instansie wat hiermee worstel nie. Terwyl ons help om misdaad in ons omgewing te beveg het ons ondersteuning nodig”.

Kol Lucas Mabote van Lephalale Polisiekluster het gesê dit klink na ʼn wesenlike probleem en daar sal iemand aangewys word om die volgende vergadering by te woon en die prosesse te verduidelik. “Daar moet vasgestel word waar die probleem lê,” het hy gesê.    

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.