R18 000 geroof — uit op borg van R2 000 elk?

LEPHALALE — ʼn Man is Donderdagoggend 30 Augustus buite Capitec Bank in die Lephalale Crossing winkelsentrum van R18 000 kontant beroof.

Elvis Madiba, Fana Jim Mabela and Wayver Matibela

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale Polisie Klusterwoordvoerder, het die man van die outomatiese tellermasjien (OTM) af gestap nadat hy ʼn onbekende bedrag by die OTM na ʼn ander rekening oorgeplaas het. Die R18 000 was in sy broek se agtersak.

ʼn Persoon wat van voor af aangekom het, het iets “nat” aan sy arm gesmeer en volgens Mokoena was hy baie ontsteld daaroor, veral omdat daar soveel gerugte van toordery die rondte doen.

ʼn Man wat agter hom gestap het, het hom blykbaar gevra waarom hy so ontsteld is en aangebied om saam met hom te loop na ʼn “polisievoertuig” wat ʼn ent daarvandaan gestaan het.

Terwyl hy in die voertuig geklim het, het ʼn derde persoon die geld uit sy sak gehaal. Hy het uit die voertuig geklim om alarm te maak toe die voertuig, met die drie verdagtes, wegjaag in die rigting Marken.

ʼn Vrou wat in die omgewing was het gesien wat gebeur het en sy het die man opgelaai en die rowers agternagesit.

Intussen het mnr Pilusa, assistant-superintendent by Lephalale Munisipaliteit se verkeersdepartement, die rowers ook agternagesit. Hy het hulle op die Beska-pad, waar hulle afgedraai het, van die pad af gedwing en twee van hulle gearresteer. Die derde verdagte het daarin geslaag om weg te hardloop met die geld.

Lede van die Lephalale gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en sekuriteitsbeamptes het mnr Pilusa gehelp en die derde verdagte agternagesit. Sy spore is gevolg deur die veld waar hy later gearresteer is. Sy baadjie en die gesteelde geld was nêrens te vinde nie.

Volgens Mokoena was die Hyundai i20 waarmee hulle gery het ʼn gehuurde voertuig van AVIS.

Die drie verdagtes Elvis Madiba (40), Fana Jim Mabela (42) en Wayver Matibela, (almal van Mokopane), het Vrydag 31 Augustus in die Landdroshof in Lephalale verskyn en hulle is borg toegestaan van R2 000 elk.

Lede van Lephalale Polisie is baie teleurgesteld dat die verdagtes uit is op borg, veral gesien in die lig daarvan dat dit nie hulle eerste oortreding is nie.

Teen druktyd was die R18 000 steeds nie gevind nie en die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.