R500 000 se karkasse verbrand — stropers vat leeutande, naels, sterte

Drie leeus is Saterdagoggend 8 Desember dood aangetref op ʼn plaas in die Noordwes-provinsie. Twee se koppe, stertpunte en pote is afgekap en verwyder en volgens Pat Loots, eienaar, het een van die leeus nog geleef toe hy op die grusame toneel afkom. “Die leeu het voor ons gevrek,” sê hy.

Die leeus se koppe, pote en sterte is afgekap

Volgens Loots het die verdagtes gif op rou lewer geplaas en van die gif is ook in die leeus se drinkwater gegooi. “Die gif was oral op die grond gemors en daar het nog lewer in van die hokke gelê waar die leeus dood is,” verduidelik Loots.

Loots, wat 43 jaar ondervinding in die chemiese bedryf het, het die gif herken as Curaterr – gif wat boere hoofsaaklik gebruik op aartappels, mielies en kool. Dit is onder andere ʼn gif teen aalwurm.

“Vandat die hokke 16 jaar gelede gebou en Loots met die leeuboerdery begin het, is dit die eerste keer dat so-iets hier gebeur,” sê hy.

Volgens die polisie dui die spore daarop dat drie mense die plaas uit die suide en twee mense vanuit die oostekant binnegegaan het. Die plaas se buitedrade is op drie plekke geknip en die leeukamp se drade op een plek. Die slotte van die hokke waarin die dooie leeus was is afgebreek. Loots sê daar het die vorige dag ʼn sterk wind gewaai met ligte reën, so alle spore wat daar was voor Vrydag 17:00 was deur die reën uitgewis. Die verdagtes se spore was vars en dit het duidelik uitgestaan. “Dit was maklik om hulle spore te volg,” sê hy.

Die spore van die verdagtes het doodgeloop by ʼn teerpad waar hulle waarskynlik opgelaai is.

Die waarde van die leeus is ongeveer R500 000 en Loots het die karkasse verbrand.

Daar word beweer dat ʼn enkele groot leeutand vir ʼn groot bedrag geld in China verkoop. Die stertbeentjie het ook baie waarde omdat daar geglo word dit maak jou “so sterk soos ʼn leeu”.

Enigiemand met enige inligting oor bogenoemde saak, skakel Sakkie Louwrens van HPG by 071 798 7954.

(Pat loots woon in Modimolle, maar hy sê hy het die Mogol se water in sy bloed – sy oupa is in 1887 en sy pa in 1929 in Ellisras gebore – Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.