R93 m dwelmvonds

Sakke heroiën is in versteekte panele agter  op die voertuig gevind
Sakke heroiën is in versteekte panele agter
op die voertuig gevind

Leoni Kruger
BULGERIVIER — Bulgerivier polisie het Maandag 23 Mei ‘n groot slag geslaan deur dwelms ter waarde van R93 miljoen by ‘n verdagte te konfiskeer.
Volgens kolonel Ronel Otto, Limpopo polisiewoordvoerder, het polisielede van Groblersbrug grenspos inligting ontvang oor ‘n verdagte voertuig, ‘n silwer Nissan NP200, registrasienommer FF63 GN GP wat moontlik dwelms vervoer wat deur die grenspos gery het.
Adjudant-offisier Kapep du Plessis van Bulgerivier polisie was rondom 08:00 vanaf Bulgerivier op die R510 op pad na Lephalale toe hy sowat 25 km voor Lephalale die voertuig van voor af sien aankom. Hy het omgedraai en die voertuig agternagesit en probeer inhaal. Intussen het hy die lede by Bulgerivier polisiestasie laat weet om die pad te versper. Die Nissan is reg voor Bulgerivier polisiestasie tot stilstand gedwing. Die verdagte het blykbaar baie kalm voorgekom, ook tydens die deursoek van die voertuig. Bulgerivier polisie het a.o. Hennie van Staden by Groblersbrug laat weet dat daar geen dwelms binne-in die voertuig is nie, waarop hy laat weet het dat hulle die verdagte by die stasie moet hou, want hy is positief dat daar wel dwelms is.
Na ‘n deeglike ondersoek is ‘n bedrag van R139 900 en 10 000 VSA Dollers versteek in die deurpanele gevind. Die polisie het ook versteekte panele agter die agtersitplekke sowel as agter op die Nissanbakkie gekry. Dié ondersoek het gelei tot die vind van 93 x 1 kg pakke heroiën. Na beraming sowat R93 miljoen werd.
Die bestuurder van die Nissan, die 33-jarige mnr. Camal Musa Waziri, ‘n Tanzaniese burger, is gearresteer en aangekla vir die besit, smokkel en handel in dwelms.
Hy het Maandag vlugtig in Lephalale Landdroshof verskyn en die saak is uitgestel tot 31 Mei.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.