Raaisel verdiep

Monique Barnard se skielike verdwyning bly steeds ‘n raaisel
Monique Barnard se skielike verdwyning bly steeds ‘n raaisel

Leoni Kruger
LEPHALALE — Monique Barnard, die 19-jarige meisie wat Donderdag 7 April in die vroeë oggendure haar tassie gepak en weggeloop het van die huis in Kameeldoringstraat waar sy en haar vriend, Morne Jansen van Rensburg, gewoon het, was teen druktyd steeds soek.
Volgens Morné het hy Donderdagoggend nadat sy geloop het vir minstens 20 minute agter haar aangery en haar gesmeek om terug te klim in die motor, maar sy het volstrek geweier. Hy sê hy het later omgedraai omdat hy gedink het sy sal bang word en teruggaan huis toe. Hy sê dit is nie die eerste keer dat sy haar goed pak en loop nie.
Sy het wel later vir hom ‘n sms gestuur om te laat weet dat sy “okey” is.
Intussen het Lisa* Maandag 18 April die plakkate van die vermiste Monique by ‘n winkelsentrum gesien. Volgens haar het hulle Monique omstreeks 01:30 Donderdagoggend in die parkeerterrein van Mike’s in Onverwacht gekry nadat hulle eers na hulle woonstel in Ledibeng was en toe terug is na Mike’s. Monique het blykbaar vir hulle gesê haar vriend slaan haar en niemand wil haar hê nie en dat sy gaan wegloop. Hulle het haar na bewering saamgeneem na ‘n huis waar hulle verder gaan kuier het. Volgens Lisa* het sy teen ongeveer 03:00 gesien dat Monique nie meer daar is nie en sy het gehoor dat sy saam met ‘n man daar weg is.
Dié man, wat slegs aan die koerant bekend is as “André”, sou met die koerant skakel om sy weergawe van dié aand te vertel, maar hy het teen druktyd steeds nie van hom laat hoor nie. Volgens Lisa* het hy vir haar gesê dat Monique aangedring het daarop dat hy haar aflaai by die kruising by Lephalale Mall. Hy wou haar blykbaar nie aflaai nie, omdat hy gedink het dit is gevaarlik, maar volgens Lisa* het sy “André” gedreig en gesê sy gaan uit die bewegende voertuig klim as hy nie stop nie. Hy het haar na bewering daar afgelaai. Hy het blykbaar later weer daar verbygery en gesien dat ‘n swart BMW by haar gestop het en sy het met die man in die voertuig gepraat.
Hy het weer ‘n keer daar verbygery en gesien dat daar ‘n Polo met twee mans by haar gestop het. Volgens Lisa* is dit die laaste keer dat Andre haar gesien het.
Intussen het Mogol Pos Dinsdag by adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale SAPD woordvoerder verneem dat die polisie geen verdere inligting ontvang het nie. Mogol Pos het Woensdagoggend gepraat met adjudant-offisier Erika Oosthuizen wat help met die ondersoek van die saak. Volgens haar weet hulle nie veel van die saak nie, maar sy het wel met Monique se pa, Nicky Barnard, gepraat en hy het nog niks van sy dogter gehoor nie.
Monique se ma, Louise, het ook nog niks verder van haar kind gehoor nie. Haar selfoon is steeds afgeskakel en die stemboodskap is dieselfde.
Morné sê hy wil net weet of sy veilig is. Louise sê dit maak nie saak waar haar kind is nie, sy wil net weet of sy veilig en ongedeerd is. A.O. Oosthuizen doen ‘n beroep op enigiemand met enige inligting om haar te skakel. Sy verseker die publiek dat daar geen kriminele saak teen enigiemand gemaak sal word of dat daar nie sprake is van enige vervolging nie, hulle wil net die versekering hê, dat waar sy ookal is, sy veilig is.
A.O. Oosthuizen kan geskakel word by 083 321 9904.
*Nie haar regte naam nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.