Raditswene — ‘n lekker storie!

Die foto van George en Jack soos in die Scope-tydskrif, teen die legendemuur in Jack’s Corner
Die foto van George en Jack soos in die Scope-tydskrif, teen die legendemuur in Jack’s Corner

Ria Wells
VAALWATER – Vaalwater spog met ‘n nuwe braairestaurant en kroeg naamlik die Raditswene Pub & Grill by Brandit Curios net buite Vaalwater op die Modimollepad. Dié heerlike kuier- en eetplek het amptelik geopen op Saterdag 3 Desember 2016.
Volgens Louisa Grové, mede-eienaar saam met Jan Niewoudt, is die restaurant vernoem na Jan se pa, die legendariese George Niewoudt wat jare en jare gelede ‘n bekende bobbejaanvanger in die Waterberge was. Sy bynaam was Raschwedi wat beteken “Vader van die bobbejane”.
Volgens oorlewering was Raschwedi een van baie mense in die omgewing wat net-net ‘n bestaan kon maak in ‘n wilde en woeste bosveld. Maar sy geluk het gedraai.
Volgens ‘n artikel in die Scope van 14 April 1972 oor dié legende het die joernaliste hom in ‘n kroeg in Ellisras ontmoet waar hy sou gesê het: “I’m George Nieuwoudt. Call me Raschwedi, Father of the Baboons. I’m the greatest and only professional baboon-catcher in the world. I catch 4 000 baboons a year. What’re you drinking?”
Volgens die berig het hy gehoor van ‘n professor wat bobbejane vir mediese navorsing soek. Hy het die professor gebel en gesê hy het duisende bobbejane, hoeveel wil hy hê? Dié het glo gesê so veel as wat George kan verskaf en sal hom R10 per bobbejaan betaal. George was ‘n gemaakte man!
Maar George kon blykbaar op ‘n spesiale manier met die bobbejane kommunikeer en hulle kalmeer. Jack, ‘n bobbejaanmannetjie, het egter so baie van George begin hou dat hy blykbaar later pal aan George se sy was. Glo op die voorste sitplek gesit en wanneer George nie kyk nie, gou ‘n slukkie Skotse whisky uit die bottel, wat seker ook pal op die sitplek was, geneem. Later wou hy nie sy nuutgevonde vriend se sy verlaat nie en het hom selfs kroeg toe vergesel. Natuurlik was dit ‘n groot attraksie vir kroegbesoekers!
Die nuwe Raditswene-kroeg in Vaalwater met die slagspreuk “Place of Legends” is dus gebore uit legende George Nieuwoudt se bynaam Raschwedi, kompleet met ‘n “Jack’s Corner” daarby. Tydens die amptelike opening is die oorspronklike Scope-tydskrif waarin die berig was aan Jan se seun en naamdraer George oorhandig wat dit hopelik kan oordra aan toekomstige naamdraers.
Louise nooi almal in die Waterberge wat weet van nog ware legendes om vir haar foto’s en verhale te bring wat sy teen die muur in “Jack’s Corner” wil opsit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.