Rassiekoor 1ste keer deur

LEPHALALE — Laerskool Ellisras het met hulle eerste deelname aan die gewilde Sing in Harmonie-skolekoorkompetisie na die eindronde deurgedring.

Leanda Wilhelm, koordirigent, sê dis veral ’n groot prestasie vir dié koor, want die helfte van die koorlede kan nie eens Afrikaans praat nie.

Volgens haar blyk dít net nog ’n groter aansporing vir die klein koor van 38 lede gewees het, want hulle het “steeds “Byeboerwa” uit volle bors gesing sonder dat hulle geweet waarvan hulle sing”.

“Die kinders self het nie besef wat gebeur het nie. Dit was ’n ongelooflike ondervinding gewees en regtig ’n groot verrassing toe dit aangekondig is dat ons in die finaal gaan sing.”

Die eindronde van dié reeks van Sing in Harmonie, waarvan die eerste episode op 3 Junie op kykNET NOU (DStv-kanaal 146) uitgesaai is, sal van 21 tot 24 September uitgesaai word.

Sing in Harmonie is Anthonie Bougas van Supersterre-faam se breinkind.

Dit is tans die grootste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika, gemeet aan televisieblootstelling, pryspakkette en aantal inskrywings.

Bougas is die aanbieder, skrywer en vervaardiger van dié gesogte jaarlikse kompetisie, waar honderde kore van laerskole en hoërskole oor die land heen teen mekaar meeding.

Suid-Afrika het vir die eerste keer in 2007 met Bougas kennis gemaak toe hy aan Supersterre deelgeneem het. Deesdae sien ons hom as aanbieder van verskillende programme soos Sing in Harmonie, Kleuterzone en Solis vir Christus. Hy het al selfs ’n draai in die sepie Villa Rosa gemaak.

“Die kompetisie het geweldig hierdie jaar gegroei. Kore wat deurdring na die finaal is op ’n hoë standaard en harde werk spreek vanself. Ek dink Sing in Harmonie skep ’n nuwe platvorm vir kore regoor ons land. As gevolg van TV-dekking, kry koorleiers ook nou die geleentheid om hulle te meet aan ander kore tydens die uitsendings. Dit het ’n groot impak op die groei van standaard. Daar is kore wat so verbeter het sedert die eerste jaar,” sê Bougas.

Die akteur en sanger Izak Davel, Phillip Kotze, omroeper van Groot FM, Hannelie van Sittert met meer as 37 jaar se koorervaring en Lizl Gaffley, wie se eie koor van die Kenmere Primary School in Kensington, Kaapstad in 2015 Sing in Harmonie gewen het, beoordeel weekliks saam met Bougas deelnemende kore.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ondersteun dié koorkompetisie vir die tweede agtereenvolgende jaar.

Johan Jansen van Vuuren, projekbestuurder van die FAK, sê die FAK tree op as trotse kultuurvennoot van Sing in Harmonie.

“Die bevordering van koormusiek is vir die FAK baie belangrik. Deelnemers ontvang FAK-sertifikate, wenkore ontvang FAK-trofees en FAK-Sangbundels word uitgedeel. Die bevordering van koormusiek is die sleutel tot jeugontwikkeling en taalgrense.”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.