Rassies en VLU herwin

Anton du Plessis, skoolhoof van Laerskool Ellisras saam met die hoofleiers Clarissa Booyens en Maynhardt du Plessis en Ria Strydom Voorsitter van VLU Bosveldstreek
Anton du Plessis, skoolhoof van Laerskool Ellisras saam met die hoofleiers Clarissa Booyens en Maynhardt du Plessis en Ria Strydom Voorsitter van VLU Bosveldstreek

LEPHALALE — Leerders van Laerskool Ellisras samel reeds die afgelope drie jaar broodknippies (die knippie wat die broodsakkies toemaak) in vir ‘n rolstoelprojek. Mev. Rene Lubbe het Ria Strydom, voorsitter van die VLU Bosveldstreek, geskakel om van die knippies in die hande te kry en Ria het op haar beurt saam met lede van VLU Ellisras die knippies geweeg en verpak en dit is op 5 Augustus oorhandig aan Leanda Lecornu, VLU Noord President. Die projek is ‘n VLU Noord herwinningsprojek waaraan Bosveldstreek deelneem. Ria dien op die uitvoerende bestuur van VLU Noord. Leanda sal dit by die “Inter waste” herwinningsmaatskappy in Pretoria aflewer.
Ria het die leerders van Laerskool Ellisras aangemoedig om aan te hou met die herwinning van die broodknippies. Sy sê fabrieke wat plastiekmeubels, -hangers, saadbakkies ensovoorts vervaardig, gebruik hierdie knippies omdat dit krag spaar. Broodknippies word van ‘n hoë digtheid polistireen vervaardig. Dit word dan by ‘n herwinningsaanleg in Randfontein gesmelt en in blokke gegiet wat deur fabrieke gekoop word om hul produkte te vervaardig.
Die doel van die rolstoelprojek is om plastiekknippies in te samel vir fabrieke en terselfdertyd word gestremde persone gehelp deur rolstoele te verskaf. “Inter waste” skenk ‘n rolstoel vir elke 50 kg broodknippies wat bymekaargemaak word.
Ria het Maandag 15 Augustus die goeie nuus met die Rassies gedeel dat hulle ‘n allemintige 78 kg broodknippies bymekaargemaak het. Hulle moet dus nog net 22 kg van die knippies bymekaarmaak dan word daar twee rolstoele geskenk. Ria sê dit is maklik om te bepaal hoeveel knippies jy reeds het, want een broodsakkie vol knippies weeg ongeveer 1 kg.
“Die Rassies, in samewerking met die VLU, help dus fabrieke om elektrisiteit te spaar, dit hou die dorp skoon en ons help minderbevoorregte mense. Só vat ons hande en bou saam aan ‘n beter toekoms” het Ria gesê.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.