Rassies groet hul hoof

Anton en Lani Schlechter wat baie nou saam met Anton gewerk het

LEPHALALE — Anton du Plessis het onlangs na 12 jaar as skoolhoof by Laerskool Ellisras bedank nadat hy ʼn hoofpos by Hoërskool Nylstroom aanvaar het.

Anton het op 9 Januarie 2006 as hoof van Laerskool Ellisras begin werk en sy kollegas praat met lof daarvan hoe die skool se akademie, sport en kultuur sedertdien uitgebrei en groot hoogtes bereik het.

“Die skool se leerders en personeel het soveel eerstes saam met Anton beleef – hartseer en vreugde. Jy en jou gesin het diep in ons harte ingekruip. Hou vas aan die Rassiewaardes en hou aan om jou passie vir kinders voluit uit te leef. Dankie vir al jou insette en positiewe gesindheid om van alles ’n sukses te maak. Jy het ons geleer om die regte ding die eerste keer reg te doen.

Baie geluk met jou aanstelling as hoof van Hoërskool Nylstroom. Hulle is bevoorreg om jou as hoof te hê,” is sy kollegas se boodskap.

Hulle heet ook vir Carel Lee, adjunkhoof van Laerskool Ellisras, baie welkom as waarnemende hoof en sê hy het groot skoene om vol te staan. “Ons staan bankvas agter jou. Sterkte mnr Lee,” sê hulle.

(Anton is baie dinamies en Mogol Pos sê dankie vir die uitstekende samewerkingsooreenkoms wat ons met hom gehad het. Dankie dat jy ons altyd met ope arms ontvang het — Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.