RDF SA -gholfdag — ten bate van nie-fatale verdrinkings

V.l.n.r.: Rina van Schalkwyk, Louis Jordaan, Gert Pepler en Nico Drewel

LEPHALALE — Die Reinhardt Drewel Foundation (RDF) se gholfdag is Saterdag 5 Oktober by Mogolklub gehou. Dié gholfdag was ten bate van geïdentifiseerde kinders wat gestrem is as gevolg van nie-fatale verdrinking, asook ter bewusmaking van waterveiligheid en die voorkoming van kinderverdrinking.

’n Totaal van 46 spelers het aan die kompetisie deelgeneem. Gert Pepler en Louis Jordaan was die wenners van die dag met 54 punte. Kort op hulle hakke was Kobus Booyse en Annemari Maloney met 53 punte en Elvin Bosman en Johan Nel het in die derde plek geëindig met 49 punte.

Rina van Schalkwyk, stigter en besturende direkteur van die RDF SA, het die funksie geopen en die gaste na afloop van ’n baie lekker warm dag op die gholfbaan by die prysuitdelingsfunksie verwelkom.

Die gholfspelers, borge (waarsonder so ’n gholfdag nie moontlik sal wees nie) en elkeen wat ’n bydrae gelewer het om die dag se sukses te verseker is hartlik bedank.

Die gholfdag was suksesvol ten spyte van die baie laer getal gholfspelers wat vanjaar deelgeneem het. Volgens Rina kan die sukses net daaraan toegeskryf word dat die mense wat wél deelgeneem het se harte op die regte plek is.

Rina het die gaste meer vertel oor die RDF SA se hoogtepunte deur die jaar, onder andere dat daar onderhoude gevoer was met RDF SA op kykNET se Groot Ontbyt en op ENCA. Sy het ook terugvoer gegee oor wat met verlede jaar se gholfdag-opbrengs gebeur het. Die fondse is aangewend vir noodsaaklike toetse, uitstaande mediese rekenings en terapie vir Nathan O’Grady en Miané Ainslie wat gestremd is as gevolg van nie-fatale verdrinking.

Rina het laastens beklemtoon dat sy nog baie groot drome en planne het vir RDF SA en dat elkeen wat die gholfdag ondersteun het ’n baie groot aandeel in die verwesenliking daarvan speel.

Gert Pepler, komiteelid, het die prysuitdeling vir RDF SA behartig en die aand is afgesluit met ’n heerlike ete.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.