Renault-ongeluk — nuwe inligting bekend

Die Renault nadat dit deur insleepdienste van die toneel af verwyder is

LEPHALALE — In Mogol Pos se uitgawe van 1 November 2019 in die berig “Voertuig rol, een dood, 1 ernstig beseer” word daar beweer wyle Gerhard Engelbrecht het Sondagoggend 27 Oktober 2019 omstreeks 03:00 beheer oor die rooi Renault Clio met registrasienommer FID 668 FS verloor. Daar word ook beweer dat Nerina Niemand ernstig beseer was in die ongeluk en na ’n hospitaal in Pretoria oorgeplaas is.

Bogenoemde inligting wat Mogol Pos vanaf die polisie ontvang het, is egter nie korrek nie.

Die ongeluksverslag dui aan dat beide Gerhard sowel as Nerina buite die voertuig was toe die polisie by die toneel aangekom het. Gerhard is op die toneel dood verklaar deur paramedici en Nerina is na Ellisras Distrikshospitaal geneem. Sy is ’n paar dae daarna ontslaan en nie na Pretoria oorgeplaas soos aangedui nie.

Die polisieverslag dui aan dat hulle nie duidelikheid het oor wie die voertuig bestuur het nie. Mogol Pos het wel ’n video gesien wat enkele oomblikke voor die ongeluk deur ’n derde party geneem was waar die Renault Clio by die Puma-vulstasie staan en in dié skermgreep is dit duidelik dat Gerhard in die passasiersitplek links voor sit.

’n Saak van strafbare manslag is geopen by Lephalale SAPD en die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.