Renosterhorings uitgekap

LEPHALALE — Exxaro-veldwagters het op 28 Februarie ʼn wildtelling gedoen op hulle plaas en vanuit die helikopter ʼn renoster tussen digte bosse sien lê.

By nadere ondersoek het hulle ʼn dooie swart renosterbul gevind – beide horings verwyder.

Volgens adjudant-offisier Jurg van Heerden van die bedreigde spesies-eenheid in Limpopo, het die veldwagters beweer hulle het op 11 Februarie skote gehoor, maar hewige reën het dit onmoontlik gemaak om enige spore of aanduiding van ongerymdhede te vind.

Ao Van Heerden sê alhoewel die karkas reeds in ʼn gevorderde stadium van ontbinding was, was dit duidelik dat die horings baie slordig en onprofessioneel verwyder is. Hy het ook ʼn .375-patroondop op die toneel gekry.

Teen druktyd was daar geen verdagtes in verband met die voorval gearresteer nie en daar was ook geen leidrade of spore nie.

Daar word vermoed dat die renoster reeds dood was toe dit begin reën het.


In nog ʼn voorval het veldwagters van ʼn natuurreservaat buite Lephalale Saterdagoggend 10 Maart omstreeks 09:00 ʼn dooie renoster in die Tambotierivier opgemerk en ondersoek ingestel.

Volgens ao Jurg van Heerden, is hy na die toneel ontbied en dit was duidelik dat beide horings baie onprofessioneel verwyder is. Dit was slordig uitgekap.

Spore van drie verdagters is gevind en lede van die Heritage Protection Group (HPF), ʼn privaat misdaadondersoekeenheid, het ʼn opvolgoperasie gedoen. Die spore het gelei na die Visgatpad waar hulle vermoedelik teen die teerpad opgelaai is.

Volgens Van Heerden het hy ʼn patroonpunt van ʼn .375-jaggeweer uit die renoster se karkas gehaal. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Volgens ao Van Heerden word die moontlikheid dat bogenoemde twee voorvalle verbind kan wees, ondersoek. “Dieselde kaliber is gebruik en albei renosters se horings is op dieselfde slordige manier verwyder,” sê hy.

Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.