Renosterverdagtes vas ná horing-wenk

Die 3 verdagtes na die arrestasie

Leoni Kruger
LEPHALALE — Twee broers van Alldays, Nicolas Barend van Deventer (51) en Gideon Gerhardus van Deventer (48) sowel as Onward Muchladngdna (41) van Zimbabwe, het Maandag 9 Januarie in die distrikshof in Louis Trichardt verskyn op ‘n aanklag van die onwettige besit van ‘n bedreigde spesie nadat hulle langs die Vivo en Makhadopad gevang is in besit van renosterhoring.
Volgens brigadier Motlafela Mojapelo, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het lede van Limpopo SAPD se bedreigde spesie-eenheid inligting opgevolg oor verdagtes wat probeer om ‘n renosterhoring te verkoop in die Makhado-omgewing.
Die verdagte voertuig is opgemerk en nadat die persone in die voertuig besef het dat hulle gevolg word, het hulle vinniger gery en ‘n toegedraaide voorwerp by die venster uitgegooi.
Majapelo sê die een polisievoertuig het gestop om te kyk wat hulle by die venster uitgegooi het terwyl die ander polisievoertuig die verdagtes gevolg het. Die drie verdagtes is net hierna gearresteer deur die eerste reaksiespan van die Makhado Cluster en lede van die Openbare Orde Polisiëring.
Die voorwerp wat by die voertuig uitgegooi is, was ‘n renosterhoring. Volgens Majapelo word daar vermoed dat die horing verbind kan word met ‘n renosterstroping-insident in die Witpoort area verlede week waar ‘n renosterkoei en haar kalf geskiet en die horings verwyder is. Forensiese toetse sal dit uitklaar.
Die voertuig, wat aan een van die Van Deventer-broers behoort het, is deur die polisie gekonfiskeer en nie een van die verdagtes het die geleentheid gehad om te pleit of ‘n borgaansoek in te dien nie. Die saak is uitgestel tot 16 Januarie 2017 sodat dit verder ondersoek kan word.
Die verdagtes bly in aanhouding.
Die Van Deventer-broers het reeds voorheen nasionale mediadekking gekry na vermeende onwettige
renosterbedrywighede.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.