Riool “onuitstaanbaar”

LEPHALALE — Ek skryf vir julle, want ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek woon in Klapperstraat, Onverwacht. Die riool loop nou al vir drie maande in ons straat se erwe in en ons het dit al male sonder tal na die munisipaliteit verwys.

Daar word net gesê dat die pomp buite werking is, dat hulle weet van die probleem. Verder gebeur daar niks. Af en toe word daar ’n ‘suigwa” gestuur om die put uit te suig, maar ʼn paar uur later loop dit weer oor. Ons het oral in die straat walletjies gegooi om te keer dat dit in ons erwe inloop, maar dit help ook nie.

Die bure het kinders wat gedurig met hulle fietse in die straat ry en dis vir my snaaks dat hulle nog nie siek geword het nie. Kindertjies sien nie die gevaar nie. Die troeteldiere drink ook van daardie water.

Dié verkorte brief is ontvang vanaf ʼn moedelose inwoner, maar sy is nie die enigste inwoner wat keelvol is vir die riool-situasie in Lephalale nie.

Verskeie inwoners het Mogol Pos geskakel vir hulp en die koerant het probeer om ʼn afspraak te kry met die Munisipale Bestuurder, Maria Cocquyt, maar sy was nie teen druktyd beskikbaar nie.

Gerugte dat daar al vir die afgelope tyd vier pompe in Onverwacht stukkend is, dat Sanitec die munisipaliteit nie meer wil help omdat hulle nie betaal word nie en dat die pompe nie kan vervang word as die rioolputte nie leeg is nie, het onder die koerant se aandag gekom, maar dié bewerings kon nie bevestig word of die teendeel kon ook nie bewys word nie.

Mogol Pos beoog om wel meer inligting te verskaf sodra ʼn gesprek met me Cocquyt realiseer.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.